Sondag was ’n aksiebelaaide dag van bootpret op die Vaalrivier by Parys se Dome-avontuurfees in dié Noord-Vrystaatse dorp.

André Groenewald (44), direkteur en eienaar van die bekende André-begrafnisdienste op die dorp, het die middag ná die gewilde Dragon-bootresies waar spanne teen mekaar meeding, ook sy motorboot op die rivier vir ’n pretrit uitgevat.

Maar teen die laat middag het sake ’n drastiese wending geneem toe André ten aanskoue van sy vrou, Debbie, en dogters, Dedré (15) en Desiré (13), en ongeveer 200 ander mense in ’n lelike fratsongeluk betrokke is.

“André wou die boot omdraai,” vertel Johan Herbst, André se swaer en beste vriend, van wat gebeur het. “Ek het solank die bakkie en sleepwa gereed gemaak sodat ons die boot kon laai. André het nie vinnig gery nie, maar toe hy naby die wal kom, het ’n boom se tak die kap van die boot se dak getref. Een van die pale het hom met ’n harde slag teen die kop getref.”

Dit was toe dat André vermoedelik sy bewussyn verloor en bo-op die boot se versneller val. "Die motorboot tref toe die wat teen ’n hoë spoed," herroep Johan die verskriklike oomblik verder.

"André is nie op slag dood nie," voeg Marinda, Johan se vrou en Debbie se suster, by. Die familie verwys liefderlik na Debbie as Debsie.

"Paramedici het met hom na die staatshospitaal gejaag. Hy het ’n groot gat in sy kop gehad en hy het verskriklik baie bloed verloor.” André is van die staatshospitaal op Parys na die Mediclinic in Vereeniging oorgeplaas.

Maar hy is op pad daarheen in die ambulans oorlede.

"Debsie was saam met hom toe die paramedici die nuus oordra dat hy oorlede is," vertel Johan. Die ambulans het toe maar weer teruggedraai Parys toe.

Volgens Johan en Marinda het André gelewe vir sy werk. Hy was langer as twee dekades ’n begrafnisondernemer en het die laaste sowat agt jaar sy eie onderneming bedryf.

Andrebegraf2

Johan vertel net hierdie jaar alleen het André ongeveer R70 000 se begrafnisse vir mense oor die kleurgrense heen self gedek omdat hulle nie dit kon bekostig nie.

Colin Viljoen, ’n oud-kollega, wat nou weer te midde van die tragedie by André se onderneming kom uithelp, vertel daar was nie ’n beter mens as sy voormalige kollega nie.

“Ek het so baie by hom geleer. Hy was baie professioneel en wyd deur mense gerespekteer. Alles moes altyd tot op die punt reg wees. André was by alles betrokke en moes elke begrafnisbrief eers self afteken voordat dit gedruk word. Hy was ’n openhartige persoon wat baie simpatie gehad het met mense.”

Colin vertel André kon ook in donker tye grappe maak om sy personeel en ander mense in rou op te beur. Johan het dit ook benadruk. “Hy kon lag te midde van nood en hartseer.”

Sy eie onderneming gaan hom nou begrawe en sy laaste wense, soos om Kenny Rogers se The Gambler tydens sy diens te speel, vervul.

“Ons wil hom met die eer begrawe waarmee hy mense oor die jare heen begrawe het,” sê Johan. “’n Groot vlam op Parys is dood.”