Johannesburg. – ’n Vrou van Meyerton is verpletter nadat haar eenjarige seun deur ’n groep gewapende mans uit sy bed ontvoer is, het die polisie Vrydag gesê.

Die 36-jarige vrou, wat ’n begrafnisonderneming bestuur, was omstreeks 22:00 op pad uit om ’n liggaam te gaan haal toe drie mans haar oorval, sê konst. Maria Mazibuko. Sy het enkele minute tevore ’n oproep gekry van mense wat haar gesmeek het om die liggaam te gaan verwyder.

Die ander drie kinders en die ma is in die badkamer toegesluit en die mans is met die kind weg.

“Toe sy die veiligheidshek oopsluit, het daar drie mans gestaan wat ’n vuurwapen op haar rig. Hulle het haar die huis ingestoot en vir die kind gevra.”

Die gewapende mans het haar tot in die kamer gedwing waar hulle die slapende baba opgetel het. Die kind, wat Ditsebe genoem word, was in ’n Batman-T-hemp en ligblou kortbroek geklee.

“Die ander drie kinders en die ma is in die badkamer toegesluit en die mans is met die kind weg. Die motief vir die ontvoering is onbekend.”

Die vrou en die kinders se pa is uitmekaar. Volgens News24 het Maria gesê die vrou praat met maatskaplike werkers by die polisiekantoor.

Sy sê die vrou is baie ontsteld, maar die polisie het met ’n volledige ondersoek begin en hulle ondersoek ’n saak van ontvoering.

Bron: News24