[caption id="attachment_151155" align="alignnone" width="605"]Die Brink-gesin. Foto: Verskaf Die Brink-gesin. Foto: Verskaf[/caption]

Lise Brink (42) is sedert die ongeluk Vrydagoggend, wat die lewens van André (13) en Rachel (8) geëis het, onder verdowing geplaas.

Die gesin was op pad na Kaap St. Francis in die Oos-Kaap toe die ongeluk Vrydagoggend net buite Theunissen gebeur het. ’n Band van die gesin se Toyota Land Cruiser het glo gebars waarna die voertuig van die pad afgegaan en gerol het.

Lise is baie ernstig beseer in die ongeluk.

Sedert Maandag veg die dokters dat Lise haar linkerbeenbeen kan behou. Sy het ook nog chirurgie wat aan haar gesig gedoen moet word, maar vir nou is dit nie vir dokters die prioriteit nie, sê dr. Dirk Hermann, Solidariteit se bedryfshoof.

Dirk sê vir nou is Danie, uittvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, se fokus op Lise.

Lise het akute kompartement-sindroom in haar linkerbeen ontwikkel weens die impak van die ongeluk. Dit veroorsaak swelling wat bloedtoevoer belemmer.

Sy word tans in die waakeenheid van die Netcare Unitas-hospitaal in Centurion behandel. Sy is Maandag van Welkom eers na Milpark in Johannesburg, toe na Wilgers in Pretoria en uiteindelik kort na middernag na Unitas oorgeplaas. Dit was net by Unitas waar ’n span dokters bymekaar kon kom om Lise se linkerbeen te red.

Akute kompartement sindroom kan lei tot die amputasie van die been, maar daar is nog geen finale besluit oor dit geneem nie, sê Dirk. In die stadium hoop dokters om haar been deur chirurgie te red.

“Danie is verslae oor die situasie,” sê Dirk.

“Hy is baie bekommerd oor Lise.

“Terwyl sy by Unitas se ongevalle behandel is, het hy elke nou en dan gesê hy gaan net gou vir Lise ’n drukkie gee. Dan gaan hy in, gee haar ’n drukkie, praat met haar en vryf oor haar gesig.

“Danie het ’n klomp emosies om te verwerk met twee kinders wat hy aan die dood moes afstaan en ’n vrou wat in ’n baie ernstige toestand is. Daarby moet hy nog sy ander drie kinders ook ondersteun.

“Vir nou is die groot fokus op Lise. Dit is asof hul verwerking van die dood van hul twee kinders, nog vir hulle voorlê.”

Die Brinks se ander drie kinders, Mieke (15), Johann (9) en Daniël (2) is by die gesin se huis in Pretoria en word deur familie ondersteun.

“Die kinders hanteer alles in die stadium nog goed. Ek dink dit is omdat hulle so omvou word deur die familie se liefde,” sê Dirk.

“Vir nou vat almal dit dag vir dag.”