Dié spesie het ’n vlerkspan van tot 2,84 m en hul spyskaart sluit van hase tot skaaplammers in. ’n Jong seun is dus nie ’n onmoontlike uitdaging vir dié reuse van die lug nie. Tydens ’n roofvoëlvertoning op 6 Julie in die Alice Springs-woestynpark in Australië se Noordelike Gebied het een van die arende wat deel was van die vertoning, dit byna-byna bewys.

Tydens die demonstrasie was die arend veronderstel om vir ’n fotosessie op ’n aangewese stellasie, oftewel sitplek, te land nadat die toeskouers aan sy vlugvaardigheid bekendgestel is.

Maar toe verander ta van plan. En niemand het verwag dit sou gebeur nie, allermins die jong seun met sy groen kappietop. Die knapie het glo die hele tyd tydens die vertoning sy top se ritssluiter op- en afgetrek.

Of dit die arend geïrriteer het of nie, is nie duidelik nie. Maar die volgende oomblik het die arend sy kragtige kloue in die seun se kappie geslaan en dit het gelyk asof hy hom wou wegsleep.

Christine O’Connell het die skrikwekkende oomblik afgeneem.

Die seun het gelukkig net geringe, oppervlakkige beserings opgedoen. Die arend was nie so gelukkig nie. Hy sal nou vir ’n tydjie nie aan die vertonings mag deelneem nie. Die voorval moet eers deeglik ondersoek word om te bepaal wat die “kontak met ’n toeskouer” veroorsaak het: die ritssluiter of dalk die arend se voorkeur vir groen tops.

Selfs sweeftuie is nie veilig in die lug wanneer van dié arende teenwoordig is nie.

Ook Donald Trump se kenmerkende kapsel is lelik deurmekaargekrap deur ’n arend wat glad nie genoeë geneem het met die Trump se teenwoordigheid nie.

Bronne: Instagram, thejournal.ie, theguardian.com, independent.co.uk