Nog 11 passasiers is onherkenbaar verbrand in die trompop botsing Maandagmiddag in die noordelike Mvurwi-distrik, het die staatsmedia berig.

“Albei motors het aan die brand geslaan toe die botsing by ’n draai gebeur,” het Charity Charamba, polisiewoordvoerder, aan die staatskoerant Herald gesê. Die ongeluk was tussen ’n Nissan Caravan met 21 passasiers en ’n Honda CRV met vier insittendes.

Sy het gesê ’n plaaslike beeswagter het 14 oorlewendes uit die minibus gered.

“Hy moes in sommige gevalle water giet op die passasiers wat gebrand het. Ons wil hom bedank dat hy so dapper was.”

Zimbabwe se paaie is bekend daarvoor dat hulle gevaarlik is. Verlede maand is 43 passasiers dood toe hul oorvol bus op pad na Zambië die pad in die noorde van Zimbabwe verlaat en teen ’n boom gebots het. 

Charamba het gesê die twee voertuie in Maandag se ongeluk het gejaag en die bestuurder van die minibus was skuldig aan die uiterste oorlading.

“Ons doen ’n beroep op bestuurders om uiters versigtig te wees, veral as hulle passasiers vervoer, om hierdie soort ongelukke te vermy.

Die polisie het verlede week gesê daar was meer as 38 000 padongelukke in 2016, ’n rapsie minder as die 41 400 in 2015 berig News24.

Hulle sê hul ongewilde polisiëring van die paaie deur talle beheerpunte en padblokkades help om ongelukke te bekamp.

Bron: News24