DIS ’n tragedie, en die omstandighede waarin dit gebeur het, ’n raaisel. Al wat seker is, is dat die nag waarop hul paaie in Pretoria gekruis het, vir albei in volslae rampspoed geëindig het.

’n Man is dood, en nog een se lewe lê aan skerwe.

Vir Johannes Mogale, ’n metropolisieman, het die lewe op 38 jaar eensklaps in die nanag van 26 Augustus tot ’n einde gekom in ’n straat in Pretoria toe die verwoede Blou Bul-rugbystut Bees Roux hom glo met sy kaal hande doodgeslaan het.

Dit was sy jongste, Boitshepo, se negende verjaardag, maar vir hom en sy sussies, Thato (15) en Oreabetse (3), was daar toe geen partytjie nie. Hul pa en die gesin se enigste broodwinner is dood, en hul ma, Margaret (35), in rou.

En ’n aanklag vanmoord staar nou ’n belowende jong rugbyspeler in die gesig vir wie die lewe vorentoe oopgelê het. Hy is ’n finalejaarstudent in eiendomswaardering aan Unisa, en daar was sprake van Springbokkleure.

Nou wag ’n vonnis van tot 15 jaar in die tronk dalk op hom.

Wat die nag presies gebeur het, is geensins duidelik nie. Al wat redelik seker lyk, is dat Bees twee-uur die nag van die pad afgetrek is weens beweerde dronkbestuur.

Johannes was saam met hom in die motor – volgens sy metrokollegas om die rugbyspeler huis toe te ry, en hulle was glo wel in die rigting van sy huis onderweg. Maar volgens Bees wou die polisieman hom van sy motor beroof.

En toe ’n veiligheidswag by ’n motorhandelaar daar naby weer sien, tuimel twee figure uit die bewegende motor en Bees is op Johannes. Bees was buite homself, en die aanval so verwoed dat twee studente wat stilgehou het om die polisieman te help Bees nie van hom afgetrek kon kry nie.

Wat ook al die waarheid, die hartseer van dié tragiese gebeure is dat dit nogmaals die vinger druk op ’n teer punt in die Suid- Afrikaanse samelewing: toenemende wantroue in die polisie, en selfs vrees vir die mense wat ons moet beskerm.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 9 September 2010