’n Kaapse model en aktrise gaan binnekort die hoofrol in ’n internasionale TV-reeks vertolk.

Alex McGregor (23) het haar opgewondendeid in die sosiale media gedeel nadat sy onlangs uitgevind sy gaan die karakter Fable in die mitiese reeks Searchers vertolk.

Die Kapenaar vertel op haar Facebook-blad hoe sy onlangs binne 21 uur in Los Angeles moes gewees het vir ’n finale oudisie. Sy was een van net drie hoopvolle aktrises wat verlede Dinsdag voor ’n paneel van sowat 20 grootkoppe by die televisienetwerk The CW weer ’n oudisie moes aflê.

The CW maak reeds sulke gewilde reekse soos Jane the Virgin en My Crazy Ex-girlfriend.

“Ek was vol selfvertroue, maar om in daardie vertrek in te stap was werklik baie intimiderend,” vertel Alex.

Terwyl sy buite gewag het vir ’n Uber om haar terug te neem na haar hotel na afloop van die oudisie, het die skrywer van die reeks, Jason Rothenberg, langs haar kom staan en gesê: “Jy het dit gekry; jy is Fable.” “Ek kon nie ’n woord uitkry nie. Ek het net gesnak na my asem en my arms in die lug rondgeswaai,” beskryf sy die groot oomblik. Voorbereiding vir die reeks het reeds vroeër hierdie week begin. Volgens Netwerk24 gaan Searchers in Kaapstad verfilm word. Alex is die niggie van die bekende modelsussies Kerry en Tracy McGregor.

A post shared by Alex McGregor (@alexpiaramcg) on

Alex was voorheen te sien in talle groot produksies, insluitend Spud 3: Learning to Fly. Meer onlangs het sy teenoor groot name in die bedryf soos Elle Fanning en Nicholas Hoult gespeel in die 2014-rolprent Young Ones.

Sy was ook te sien in die Bybelse dramareeks Of Kings and Prophets, wat in Kaapstad verfilm is. Sy gaan ook binnekort in die dramareeks The Dark Tower wees, waarin sy teenoor Matthew McConaughey en Idris Elba gaan speel.

In Searchers gaan Alex teenoor Zane Holtz speel, wat die rol van haar karakter se broer, Cooper, vertolk. Die reeks fokus op dié broer en suster tien jaar ná hul ouers se dood. Hulle gaan op ’n reis om die waarheid agter hul ouers se verdwyning te vind en ontdek groot legendes, mites en onverklaarbare raaisels van die wêreld langs die pad.