Wanneer die Suid-Afrikaanse model Katryn Kruger (21) Suid-Afrika vir die buiteland verruil, gaan sy seker maak haar “koffiebekers met die worshonde op” word eerste ingepak sodat hulle haar aan haar worshonde kan herinner.

“Ek het twee worshonde; hulle bly by my ouers,” sê Katryn. Haar boeke en digbundels sal ook in die tas moet plek kry, sê sy. Die donkerkop, wat danksy haar modelwerk al oor die wêreld heen gereis het, is verlede jaar in Oktober met dr. Cilliers Kies getroud. Sy sê sy is gek na die getroude lewe.
“Dis heerlik om my eie huis te hê en dat ek en Cilliers nou ons eie roetine het . . . die saam kook, musiek luister en net ‘wees’,” sê sy. “Cilliers is my beste vriend en om met hom getroud te wees is so gemaklik, so lekker, so tuis. Hy laat my lag en laat my altyd geliefd voel. En die avontuur van die getroude lewe, met al die ups and downs, is heerlik!” Katryn en Ciliers sou aan die begin van die jaar na die buiteland verhuis sodat sy nader aan haar werk kan wees, maar hulle het dié skuif uitgestel.
“Om so tussen Europa, Amerika en Suid-Afrika te reis is nogal veeleisend, maar ons het dit met ’n jaar uitgestel sodat Cilliers eers sy verpligte gemeenskapsdiensjaar vir dokters by die Khayelitsha-distrikshospitaal kan voltooi.” Sy sê hulle sal na verwagting ná ’n jaar of wat weer in Kaapstad wil bly.
Katryn, wat al vir talle groot modehuise soos Dior modelwerk gedoen het, het onlangs weer van ’n besige reis teruggekeer. Sy het van Frankryk na Suid-Korea en toe na Spanje gereis. “Wanneer ek oorsee gaan, is ek gewoonlik tot twee tot drie weke weg. In daardie tyd werk en reis ek heeltyd tussen verskillende lande en stede.”

Paris, you were lovely! ??

A photo posted by Katryn Kruger (@katrynkruger) on

Sy sê sy mis Cilliers en die alledaagse dinge die meeste wanneer sy lank uit die land is. “Ek mis my huis en die roetine. Ek mis dit om saans saam met hom te kook terwyl ons musiek luister en ’n glasie wyn drink. Ek mis my eie bed en die geborgenheid wat ’n mens ervaar wanneer jy in jou lewensmaat se arms aan die slaap raak. Ek mis dit om tyd saam met my boetie, Albert, deur te bring. Ek mis dit om vinnig ’n koffieafspraak met my ma of pa te reël, of om Sondae saam met Cilliers en my skoonouers kerk toe te gaan.” Wanneer Katryn ná ’n paar weke in die buiteland terugkeer, herlaai sy graag haar batterye deur kaalvoet in die huis rond te loop en saam met haar familie en vriende te kuier. Sy studeer ook deeltyds en is besig om verskeie kortkursusse van die Universiteit van Kaapstad en GetSmarter te voltooi.

When strolling around in Paris ... #work #marksandspencer #model #fashion #imgmodels @imgmodels @marksandspencer

A photo posted by Katryn Kruger (@katrynkruger) on

“Dis alles aanlyn, wat dit ideaal maak vir my, wat heeltyd reis. Ek geniet dit vreeslik en het pas ’n 12-week-kursus in bemarking voltooi. Die studie hou my lekker besig, veral die lang ure op die vliegtuig en wanneer ek by die huis is,” sê Katryn.

Sy glo ’n mens moet altyd aanhou leer.