’n Video wat wys hoe ’n fietsryer deur drie mans in Somerset-Wes beroof is, lok ’n massiewe gehoor op die internet: Dit is sedert Maandag meer as 1,5 miljoen keer gekyk.

Die fietsryer, Malcolm Fox, het Saterdag 31 Mei gaan fietsry en ’n klein GoPro-kameratjie aan sy valhelm vasgemaak. Die kamera was aan toe hy deur drie mans oorval en beroof is – sonder dat die diewe besef ’n kamera neem hulle af. Een van die mans was bewapen.

Volgens dieburger.com is Malcolm eindelik van sy bergfiets, selfoon, motorsleutels en Oakley-sonbril beroof maar is nie beseer nie. Die diewe het laat spaander en Malcolm met sy valhelm – en die GoPro-kamera waarvan hulle onbewus was – net daar gelos.

Die beeldmateriaal het eindelik al drie verdagtes (almal 22) ’n dag of twee later help vastrek. Hulle het Dinsdag in die landdroshof in Somerset-Wes verskyn en sal in aanhouding bly tot hulle later vandeesmaand weer in die hof voorkom.

Kyk die video hier: