’n Woordvoerder van die department van gesondheid het Sondag gesê ’n lykskouing om die dood van ’n leerder tydens ’n voorval van “massahisterie” by ’n Oos-Kaapse skool vas te stel, het gewys sy is as gevolg van geweld met ’n stomp voorwerp oorlede.

Sizwe Kupelo het aan News24 gesê die enkele sterfgeval tydens die insident van massahisterie verlede week by die Bhekizizwe-skool, was as gevolg van beserings aan haar kop en bors.

"Ons het weefselmonsters geneem vir nadere ondersoek.”

Kupelo het voorheen gesê die “histerie” het visuele en ouditiewe hallusinasies behels.

"Toe (die) histerie die een meisie tref, het sy in die klaskamer inmekaargesak en gesterf. Die res het gevolg (deur siek te voel).

Volgens berigte was die geaffekteerdes byna almal meisies van 16 tot 17 jaar oud. Hulle is by die Ngcwanguba Hospitaal in the provinsie opgeneem.

Die groep meisies was glo reeds deur iets ontstel, en dit is glo vererger toe ’n padda onder gebed die klaskamer binnegespring het.

eNCA het beeldmateriaal van die voorval bekom (Waarskuwing: Dit mag sensitiewe kykers ontstel)

Volgens Kupelo was daar geen sigbare wonde aan die meisie se liggaam nie. "Ons is nie seker of sy dalk die beserings opgedoen het tydens haar ineenstorting nie.”

Hy het bygevoeg dat die ander meisies gesond verklaar is nadat kliniese toetse uitgevoer is.

"Ons het Vrydag ’n sielkundige aangestel om met die leerders te praat.”

Bronne: news24.com, enca.com