Die seun is nege keer in die een hand en sewe keer in die ander hand gesteek terwyl hy sy aanvaller probeer keer het.

Genevieve Whitaker, Ronan se bedroefde ma, het vanuit die hospitaal aan Huisgenoot.com vertel dat die ervaring uiters traumaties is.

“Dit was veral vir my erg toe ek op die toneel kom waar hy gesteek is en ons vir die ambulans moes wag. Die hele aangeleentheid het my kind verander. My kind het ’n stil seuntjie geword ná die aanval op sy lewe.”

Genevieve sê sy het geen idee waarom haar seuntjie aangeval is nie.

“Hy het niks by hom gehad wat die man gevat het nie. Ons weet nie hoekom hy vir Ronan gesteek het nie. Die sinnelose aanval het nie net ons as familie geraak nie maar talle mense rondom ons – my kind die ergste.”

Ronan het al verskeie operasies aan sy hande gehad om sodoende te verseker dat dit ten volle kan herstel.

“Ons sal nie weet of hy die volle gebruik van sy hande sal herwin voor hy nie eers met intense fisio-sessies begin het nie,” het Genevieve verduidelik.

Die bedroefde ma het ook bygevoeg dat sy net geregtigheid vir haar kind wil hê.

“Ek wil geregtigheid hê en wil weet waarom hy iets so grusaam aan ’n kind gedoen het. Ek wil ook verseker dat hy dit nie aan ’n ander kind kan doen nie," sê sy.

Kol Andrè Traut, ’n polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig.

“’n 31-jarige man is gearresteer op aanklag van poging tot moord en roof na ’n insident in Goodwood waar ’n 12-jarige seun gesteek was. Die polisie het op die voorval reageer en het die verdagte in die omgewing gearresteer,” sê Traut.

Die verdagte het Donderdag in die Goodwood landdroshof ’n verskyning gemaak.