Volgens polisiebronne het die vrou, net bekend as me. Machesa, die diefstal Sondag by die Pietermaritzburg-polisiekantoor in Loopstraat aangemeld.

Luidens die vrou se verklaring het sy in Mei met ’n man op die sosiale kletsdiens WhatsApp begin gesels.

Die man was aan haar bekend as Frans Segwaba, maar die polisie het intussen vasgestel dit is ’n vals naam. Hy het vir haar gesê hy is ’n neurochirurg by Netcare.

Ná ’n aanlyn romanse van twee maande het die twee besluit om mekaar verlede week in Bergview te ontmoet.

Die volgende dag het die man voorgestel sy vergesel hom na Durban sodat sy sy ouers kan ontmoet.

Sondagoggend het die man na bewering sy motor by ’n vriend gelos sodat dit herstel kon word en het die twee in haar motor by die St. Anne-hospitaal stilgehou vir koffie omdat hy gou iets by ’n kollega moes aflaai.

Terwyl hulle koffie drink, het hy hom na bewering van die tafel verskoon om sy vriend te gaan ontmoet en Machesa se motorsleutels sonder haar medewete geneem.

Machesa sê in haar verklaring aan die polisie sy het drie uur gewag dat hy terugkeer, maar hy het nooit teruggekom nie.

Sy kon nie bel nie, want hulle het albei hul fone in die motor gelos nadat hy vir haar gesê het dit sou net ’n vinnige hospitaalbesoek wees.

Toe Machesa na die parkeerplek teruggaan, was haar motor weg en albei hul fone afgeskakel.

Bron: The Witness