Pietermaritzburg –

Vyftig mense, familielede en vriende het die begrafnis bygewoon.

Gizmo se eienaar en “ma”, Charmaine Mungal-Charles, het gesê die 12-jarige yorkshire-terriër was die lig van haar lewe en was geliefd onder almal wat hom ontmoet het.

Dinsdag het ’n treffende begrafniskennisgewing vir die geliefde hondjie in die geklassifiseerde seksie van die dagblad The Witness verskyn.

“Gizmo was nie my hond nie; hy was soos my seun,” sê Charmaine, wat onder meer liefdadigheidsgeleenthede reël en lesings oor toerisme en reis gee.

“Hy was op sy eie manier ’n mens. Hy het graag elke dag sy eie uitrusting uitgekies. Wanneer hy gesien het ek maak reg vir werk, het hy na sy bed gedraf en sy borsel en tandeborsel gaan haal sodat ek hom kan versorg.”

Die yorkie het ’n klerekas vol klere gehad, en sy geliefkoosde item was ’n Ferrari-baadjie, sê Charmaine. Gizmo het ook pette en sonbrille gehad. Charmaine sê sy en haar man, Krish, het 12 jaar gelede besluit om ’n hondjie te kry toe hul kinders begin ouer word.

Ek is nog nooit in my lewe so liefgehad soos wat Gizmo my liefgehad het nie.

“Toe ons hom kry, was hy net twee weke oud. Hy was die eerste van sewe, maar hy was die beste een en het dadelik by ons gesin ingeskakel. Gizmo was ’n ware heer en het baie goeie maniere gehad. Tydens familie-etes met Kers- en Paasfees het ons vir hom aan tafel ’n plek gedek. Hy het nooit gebedel nie en enige kos geweier wat vir hom op die vloer gegooi is. Wanneer iemand kos op die vloer gegooi het, het hy hulle net aangekyk asof hy sê: ‘Wat dink jy is ek? ’n Hond?’ ”

Met die jare het nog honde bygekom. Gizmo het hom gou as die leier van die trop gevestig en ook die liefde van sy lewe gevind, ’n klein yorkie wat die gesin Cashmere genoem het.

“Gizmo het in Mei vanjaar siek geword. Die veeartse het gesê hoewel sy hart gesond is, werk sy ander organe nie soos dit moet nie.”

Sondag het Gizmo se toestand versleg. Sy dogter Joy was dwarsdeur sy siekte pal aan sy sy.

“Sy het by hom gesit en ure lank net na hom gestaar. Sy het geweet iets is fout. Ek is nog nooit in my lewe so liefgehad soos wat Gizmo my liefgehad het nie.”

Tydens die gedenkdiens wat op 2 Oktober vir hom gehou sal word, gaan Charmaine sy klere, speelgoed en juweliersware aan ’n liefdadigheidsorganisasie skenk. “Dit is wat Gizmo sou wou gehad het,” het sy gesê.

Bronne: News24; The Witness

Lees meer hier.