Is jy lus om tienerdogter en jouself met 'n gesigsbehandeling te bederf, maar jou beursie laat jou nie nou toe nie? So maak jy sommer tuis.

Stap 1 Reinig jou vel van grimering of vuilheid met ’n gesigwasmiddel. As jy ’n droë vel het, beveel ons ’n melkerige of romerige reiniger aan. As jou vel olierig is, kies ’n gesigwasmiddel wat skuim.

Stap 2 Vul ’n wasbak met warm water en ’n sakkie kruietee soos kamille of ’n paar druppels vlugtige olie – laventel is lieflik. Hou jou gesig ongeveer 10 minute sowat 30 cm daarvan af. Of maak ’n handdoek met die warm water nat, wring dit uit en plaas dit op jou gesig tot die handdoek afgekoel het. Herhaal die proses vir beter resultate. Die hitte help jou porieë oopmaak.

Stap 3 Eksfolieer deur ’n ligte skropmiddel met sirkelbewegings aan jou gesig te smeer. Konsentreer op die T-sone wat oor jou voorkop en oor jou neus en ken afloop. Dié area is gewoonlik die olierigste en meer geneig tot verstopte porieë. Vermy die sensitiewe area om jou oë. Spoel jou gesig af.

Stap 4 Gooi verfrisser op wattekussinkies en vryf dit sagkens oor jou hele gesig en nek, maar vermy die area om jou oë. Laat jou vel ’n minuut lank droog word voor jy na die volgende stap aanbeweeg.

Stap 5 Wend ’n masker aan jou gesig en nek deur die vel mildelik met die produk te bedek. Sit dan skyfies komkommer oor jou oë. Die komkommer bevogtig die vel, verminder enige rooiheid of pofferigheid en voel strelend. Lê agteroor en ontspan 10 minute. Verwyder die masker met ’n warm, klam handdoek.

Stap 6 Smeer daagliks bevogtiger aan jou vel en nek, en wend oogroom aan. Jou vel kan dalk effens sensitief wees. Gebruik dus sonblok as jy in die son is.