Dis maklik om te sien hoe volwasse kinders wat nie die huis wil verlaat nie jou aftreebeplanning  kan bederf. Maar finansiële kenners sê dis nie die enigste manier dat jou kinders probleme vir jou finansiële toekoms kan veroorsaak nie.

Begin vandag spaar

Lara Warburton, die besturende direkteur van Imara Asset Management SA, sê ouers skuif spaarplanne eers op die lange baan omdat hulle voel hul kinders kom eerste. Sy waarsku egter dat dit kan beteken dat jy nie genoeg gaan hê om vir jou oudag voorsiening te maak nie. “Soms bereik paartjies hul 60’s voor hulle hul prioriteite herorden en hul eie belange voor dié van hul kinders plaas. Teen daardie tyd gaan selfs die beste finansiële beplanner op die agtervoet wees,” sê sy. “Dis beter laat as nooit, maar daar kan net soveel in vyf of agt jaar se voorsorg uitgerig word.”

Lara sê sy moet dikwels die volgende scenario’s hanteer:

  • Egskeiding en die ontstaan van ’n tweede gesin.
  • Meer kinders later in die lewe.
  • Die stygende koste van opvoeding.
  • Kinders wat in hul laat 20’s nog studeer.
  • Wanneer ouers die kind se leef- en behuisingsuitgawes langer as verwag dek.
  • Kinders wat finansiële probleme ervaar en dan hul ouers se hulp inroep.

Beplan vooruit

In sulke situasies is beplanning belangrik, sê Lara. “ ’n Objektiewe assessering word vereis in gevalle waar die ouers die kind langer as gewoonlik ondersteun. Die hart oorheers egter dikwels die verstand en ouers kan hul spaargeld laat uitloop deur hul kinders jare lank te ondersteun.”

Met ander kliënte in hierdie situasie probeer ’n gesoute beplanner die finansies herstel nadat die skade aangerig is. Lara glo egter ’n proaktiewer benadering – veel vroeër in die lewe – moet gevolg word.

Leer jou kinders finansiële lesse

“Sakgeld en doelstellings van ’n jong ouderdom is dalk die antwoord. Maak kinders verantwoordelik vir spaar vir hulself,” sê Lara.

“Ek hoor stories oor onmiddellike bevrediging. ’n Kind wil iets hê, vra ma en pa, en kry dit . . . sonder dat hulle tyd en moeite insit om self die doel te bereik.”

Sy voeg by: “Dis geen verrassing nie; kinders oorverbind hulle, beland in die moeilikheid en wend hulle tot hul ouers vir geld. Bou vroeg al ’n sin vir finansiële verantwoordelikheid en keer baie probleme voor hulle opduik.”

Kry hier hulp

Vir nog inligting of hulp met aftreebeplanning, besoek imara.com of kontak Lara Warburton.