Terwyl David, wat verlede maand uit sokker getree het, volhou hy is nie van plan om ’n akteur te word nie, meen Victoria haar eggenoot van amper 14 jaar is net die regte man om as 007 oor te neem wanneer Daniel Craig die rol laat vaar.  David het gesê: “Van my vriende is akteurs; Tom Cruise is ’n baie goeie vriend van ons. Maar ek het nie planne om ’n akteur te word nie. Ek is nie seker of ek baie goed daarmee sal wees nie.” Tydens ’n gesamentlike onderhoud met die Chinese nuusstasie CCTV het Victoria laat hoor: “Ek dink jy sal baie goed toneelspeel.” Sy het eers na die onderhoudvoerder gedraai en gesê: “Dink jy nie hy sal goed wees met toneelspeel nie? Ek dink hy sal wonderlik wees.” En toe bygevoeg: “Ek dink hy moet James Bond wees. Hy sal ’n goeie James Bond wees!” Victoria (39) het erken dis ’n stryd om haar gesinslewe en suksesvolle modeloopbaan te balanseer, maar volgehou David en hul vier kinders, Brooklyn (14), Romeo (10), Cruz (8) en hul 22 maande oue dogter, Harper, is die belangrikste mense in hul lewe. Sy het gesê: “David en die kinders sal altyd my prioriteit wees. Alles wat ek doen, wentel om David en die kinders. Soos enige werkende ma weet, is dit ’n groot balanseertoertjie. Maar David en die kinders inspireer my elke liewe dag. Ek is baie gelukkig en geseënd. Ek is ’n baie gelukkige vrou.” Op die vraag of hulle saans om die etenstafel oor mode of sokker praat, het Victoria geantwoord: “Ek sou sê ons gesels oor albei. Sou jy nie ook nie?”  David het bygevoeg: “Ek sou sê ons praat meer oor sokker.” Toe sê Victoria skertsend: “Wat kan ek sê? Daar is drie seuns! En Harper kan nie baie praat nie . . .  haar woordeskat is beperk.” Victoria het intussen onthul ondanks die feit dat sy ’n modeontwerper is, kies David (38) self sy stylvolle uitrustings. “Ek kan nie daarvoor die eer inoes nie. David het ’n baie goeie sin vir styl. Hy kan nie ’n fout maak nie. Hy lyk goed in alles.”