David Beckham het in ’n stadium drie keer per week ’n kookskool bygewoon.

Die uitgetrede sokkerster het sy kookvernuf opgeskerp tydens sy twee leentydperke by AC Milan en in die proses ’n liefde daarvoor ontwikkel om ingewikkelde geregte te vervolmaak.

Hy het aan The Times gesê: “Snaaks genoeg, toe ek in Italië gewoon het, het ek ’n ses maande lange kookkursus by ’n sjefskool gevolg en regte ragù (sous met ’n vleisbasis) en vars pasta leer maak. Ek het drie keer per week gegaan. Ek was behep daarmee om risotto te vervolmaak, want dit is moeilik.”

Die 38-jarige Brit – wat drie seuns, Brooklyn (14), Romeo (11) en Cruz (8), en ’n tweejarige dogter, Harper, by sy vrou, Victoria Beckham (39), het – sê hy is die hoofkok in die Beckham-huishouding sedert hy vroeër vanjaar ophou sokker speel het. Maar hy sê hy gee nie om om die meeste aande in die kombuis deur te bring nie, want om ’n smaaklike feesmaal te berei laat hom ontspan.

“Ek doen dit (kook) meestal,” het hy gesê. “Ek is dol oor kook. Dit laat my ontspan. Die kinders hou ook daarvan. Veral as ek Milanese risotto met saffraan maak.”