David en Victoria Beckham se herehuis in Hertfordshire het die bynaam Beckingham-paleis

David en Victoria Beckham se herehuis in Hertfordshire is aan ’n versekeringsmagnaat verkoop.

Die persoon wat die landgoed van 12 akker (met die bynaam Beckingham-paleis) gekoop het, is Neil Utley, die voorsitter van Hastings Direct. Hy het verlede maand by die huis ingetrek nadat hy R207 miljoen daarvoor opgedok het.

Die Sunday People het berig dat dié allemintige bedrag ook die Beckhams se Aston Martin en twee Jaguars insluit.

Neil was verlede jaar beveel om R1,4 miljoen in geregskoste te betaal. Hy is ook twee jaar verbied om in die Lloyds-mark te werk nadat hy erken het dat hy “nadelig” opgetree het gedurende sy tyd by die motorversekeringsmaatskappy Equity Red Star.

Neil, wat in 2010 bedank het as hoof uitvoerende beampte by IAG UK (Equity Red Star se ouermaatskappy), het blykbaar versuim om te verseker dat daar voldoende finansiële stelsels en kontroles was vir eise vir persoonlike beserings.

Victoria en David het blykbaar die geld van dié transaksie gebruik om te belê in hul nuwe herehuis van R495 miljoen in Sentraal-Londen, waar hulle woon saam met hul vier kinders, Brooklyn (14), Romeo (11), Cruz (8) en Harper (2).

Die Beckham-egpaar het na bewering R99 miljoen wins gemaak op die eiendom, wat hulle in 1999 gekoop het, drie maande ná hul troue.