David en Victoria Beckham beplan dalk om terug te trek na die VSA.

Die glanspaartjie en ouers van Harper (2), Brooklyn (14), Romeo (11) en Cruz (8), het blykbaar hul onlangse vakansie van ses weke in Los Angeles so geniet dat hulle dit oorweeg om weer oorsee te verhuis.

Die gesin het teruggetrek na Engeland nadat David vroeër vanjaar ophou sokker speel het, maar hulle kon nog nie daarin slaag om ’n eiendom in Londen te koop nie. Hulle kan dalk hul geliefde Brittanje verlaat om ander opsies te oorweeg.

Dit lyk asof die gewese Manchester United-ster dalk betrokke kan raak by ’n nuwe sokker-franchise in Miami, en sy en Victoria se loopbane kan maak dat die Beckham-gesin na die VSA terugtrek.

’n Bron het aan die Sunday People gesê: “’n Besluit moet geneem word. Die kinders is gelukkig op skool, Victoria hou van haar werk en David geniet dit in sy tuisstad.

“Maar met David wat op die punt staan om ’n nuwe uitdaging te aanvaar, kan hy lang rukke weg van sy gesin af wees.”