Victoria en David Beckham is die ouers van drie seuns – Brooklyn (15), Romeo (12) en Cruz (9) – en ’n driejarige dogter, Harper.

Alle oë was onlangs op die kinders gerig toe die seuns water oor hul modeontwerper-ma uitgooi vir die ALS-ysemmer-uitdaging. Brooklyn het ook die uitdaging vir liefdadigheid voltooi en op sy video klets Harper in die agtergrond.

Brooklyn was ook die middelpunt van gerugte oor ’n romanse met die aktrise Chloë Grace Moretz, en dit het die TV-base glo oortuig dat die program hoë kykertalle sal trek.

“Die netwerke is so desperaat om met die familie ’n kontrak te sluit dat hulle so te sê vir hulle ’n blanko tjek aangebied het,” het ’n ingeligte aan die Britse tydskrif Heat gesê.

“Vrou kyk graag na David en hulle is gefassineer oor Victoria. En noudat mense in die kinders belangstel, veral Brooklyn en sy liefdeslewe, is hulle seker dit sal ’n treffer wees.”

Dit sal nie die eerste keer wees dat Victoria en David op TV verskyn nie. Hulle het al verskeie dokumentêre geskiet. Maar hul onlangsste een, Coming to America, het in 2007 onder resensente se kritiek deurgeloop. Victoria het dit gemaak om die gesin se verhuising na Amerika te bemark toe David by die sokkerspan Los Angeles Galaxy aansluit.  Maar die egpaar is glo huiwerig om weer op die kassie te verskyn.

“David is bekommerd oor die uitwerking wat dit op hul gesinslewe kan hê. Hy het gesien hoe die Kardashians is en is nie seker dat hy dit wil hê nie. Hulle is in die versoeking, maar oorweeg dit nie op die oomblik nie. Hulle het nie die geld nodig nie en dit sal beteken hulle moet hul privaatheid by die huis prysgee,” het die bron gesê.

© Cover Media