David Beckham is glo nie gretig dat sy kinders op so ’n jong ouderdom sterstatus moet hê nie.

Die voormalige sokkerster en sy ontwerpervrou, Victoria, het drie seuns, Brooklyn (15), Romeo (12) en Cruz (9), en ’n driejarige dogter, Harper. Sowel Brooklyn as Romeo het al modeveldtogte losgeslaan en die jonger een vertolk ’n hoofrol in Burberry se Kers-advertensies. Hoewel hul ouers ondersteunend is, wil David blykbaar ’n stadiger pas volg as sy vrou.

“David wil hê hulle moet kind wees en op die skool konsentreer. Victoria is ook ongelooflik streng oor skoolwerk, maar sien hoe opwindend die geleenthede is en is veel gretiger.

“Sy onderhandel elke ooreenkoms so dat sy kan sorg die kinders word nie uitgebuit nie, maar dit veroorsaak konflik tussen haar en David oor hoeveel hulle die kinders moet toelaat om in die kollig te wees,” het ’n bron aan die Britse tydskrif Closer gesê.

“Victoria voer aan sy luister net na wat die seuns wil hê. Maar David wil nie hê die kinders moet op so ’n jong ouderdom al aan roem dink nie.”

En Cruz wil nie uit voel nie en het glo sy eie drome. Hy het blykbaar al sy belangstelling in die vermaakbedryf uitgedruk en sy ma probeer glo sy nuutgevonde nuuskierigheid ondersteun.

“Cruz wil ’n akteur word en smeek om oudisies by te woon om ’n begin te maak. David dink hy is te jonk, maar Victoria het voorgestel hulle laat hom toneelspel-lesse neem sodat hy die regte toerusting vir die toekoms het,” vertel die bron.

In die geheel verloop dinge vlot vir die Beckhams – hul ryk is sowat R9 biljoen werd.

© Cover Media