Die 39-jarige sokkerlegende was oor die naweek in ’n motorongeluk betrokke toe hy sy seun Brooklyn ná sokkeroefening gaan optel het, maar kon steeds sy vrou, Victoria, sê winkel besoek om Wêrelddag vir vigs te bemark. By die geleentheid het hy oor die ongeluk gepraat.

“Ek is piekfyn, maar is effe bewerig en seer,” het hy glo aan die Britse koerant The Mirror gesê.

David was tydens die ongeluk saam met sy 15-jarige seun, Brooklyn, in sy peperduur Audi RS6 in Colney, Herts in die Verenigde Koninkryk. ’n Ma en dogter in ’n Mitsubishi het met hom gebots, en terwyl die motors erg beskadig is, was daar gelukkig net geringe beserings.

Iemand in die binnekring het aanvanklik aan The Daily Telegraph onthul alles was oukei. “David en Brooklyn is nie beseer nie en soos ek dit verstaan is albei passasiers in die ander voertuig ongedeerd,” het ’n bron aan die koerant gesê. “David en Brooklyn het groot geskrik maar is oukei.”

Ek is piekfyn, maar is effe bewerig en seer

David was duidelik nie te erg beseer nie omdat hy by Victoria se geleentheid gesien is met sy dogter, Harper, in sy arms.

Haar mikpunt vir die dag – wat bewustheid oor vigs wil skep – was om T-hemde (ter waarde van sowat R1 500 elk) te verkoop om fondse in te samel vir verskeie liefdadigheidsorganisasies wat mense met die dodelike siekte help.

Dit is ook nie die eerste keer dat David in ’n motorongeluk betrokke was nie. Trouens, dit was sy derde in drie jaar.

© Cover Media