[caption id="attachment_131759" align="alignnone" width="610"]Little Bear Schwarz. Foto: Allie Merrill /PA Real Life Little Bear Schwarz. Foto: Allie Merrill /PA Real Life[/caption]

Little Bear Schwarz – wat haar naam wettig so van Renee verander het – het vanaf 14 jaar geskeer en was- en laserbehandeling ondergaan om van die ongewenste donsies ontslae te raak.

Sy het jare lank vroeg opgestaan om te skeer en doodseker gemaak haar kêrels sien nie haar stoppelbaard nie. Maar twee jaar terug het Little Bear (33) eindelik geleer om haar gesigshare te aanvaar nadat sy ’n baardkompetisie gewen het.

Sedertdien staar mense na haar en bevraagteken selfs of sy ’n vrou is. Maar ten spyte van die wrede opmerkings weier sy om terug te keer na haar ou manier van doen toe sy daagliks moes skeer. “Ek het ervaar hoe dit is om myself te wees en kan nie terugkeer na hoe ek was nie,” sê sy.

“Ek’s trots op my baard en werk hard daaraan om dit sag te hou. Ek tooi dit met linte en draai dit in skerp punte of dat dit soos tentakels lyk.”

Polisistiese ovariale sindroom (POS) is op 31 jaar by Little Bear, van Seattle in Amerika, gediagnoseer. Sy het toe al 17 jaar lank gesukkel met oormatige haargroei, ’n vername simptoom van die toestand. Dokters kon egter geen siste opspoor met skanderings nie en die diagnose was nie dadelik voor die hand liggend nie.

Toe sy op 14 hare op haar bolip, ken en borskas begin kry, het sy gereeld begin skeer. “Om dit so te los was nie ’n opsie nie. Ek het in die stort geskeer omdat ek nie myself dit wou sien doen nie. Ek was baie geheimsinnig daaroor, want ek het gemeen vroue behoort nie gesigshare te hê nie.”

[caption id="attachment_131751" align="alignnone" width="611"]Sy het jare lank elke dag vroeg opgestaan en geskeer. Foto: Collect/PA Real Life Sy het jare lank elke dag vroeg opgestaan en geskeer. Foto: Collect/PA Real Life[/caption]

Little Bear vertel hoe sy skeeruitslag gekry het wat sy met grimering bedek het. Sy het laser- of wasbehandeling oorweeg, maar laserbehandeling was te duur en sy wou nie haar hare laat uitgroei tot dit lank genoeg sou wees vir wasbehandeling nie.

Dus het sy maar altyd weer teruggekeer na skeer, en selfs vroeg opgestaan wanneer sy by haar kêrel oorgeslaap het om van die stoppels ontslae te raak voor hy dit sien. “Ek het op baie afsprake gegaan. Ek het hierdie speletjie gespeel van ‘kom ek maak seker hulle sien nooit my stoppels nie’.”

Little Bear het haar nou ekskêrel in September 2013 deur ’n Facebook-blad oor oop verhoudings ontmoet en hy het haar aanvaar nes sy is – gesigshare en al.

[caption id="attachment_131755" align="alignnone" width="610"]Little Bear dra haar gekrulde baard met trots Foto: Collect/PA Real Life Little Bear dra haar gekrulde baard met trots Foto: Collect/PA Real Life[/caption]

Sy het ná ses maande van Florida na Seattle getrek om by hom te gaan woon en gevoel sy het ’n plek – geestelike sowel as liggaamlik – bereik waar sy haar baard kon laat uitgroei.

“Ek het van die huis af gewerk in Seattle en dit was dus nie nodig om te skeer vir werk nie. Ek het veilig genoeg gevoel om my hare te probeer uitgroei. Seattle het meer oopkop en verwelkomend as Florida gevoel. My eks het my aanvaar. Ek het selfs met hom geskerts dat hy nie so ’n mooi baard kon kweek nie.”

Little Bear het aanvanklik gevrees dat sy ’n groot fout begaan het om die skeerlemme weg te pak en was bang dat sy geteister sou word omdat sy ’n baard het. Sy het ’n paar jaar tevore ’n televisieprogram, Whisker Wars, gesien oor mense wat meeding om die langste baard te kweek.

[caption id="attachment_131750" align="alignnone" width="604"]'n Onlangse foto van Little Bear. Foto: Collect/PA Real Life 'n Onlangse foto van Little Bear. Foto: Collect/PA Real Life[/caption]

En nadat sy dit verder nagevors het, het sy gehoor van ’n plaaslike kompetisie vir vroue met ’n baard, Whiskerinas. Sy het egter nie besef die kompetisie was eintlik vir mense met vals baarde wat van goed soos wol, en nie regte hare nie, gemaak was.

“Ek het nie besef die kompetisie was vir mensgemaakte baarde nie. Almal s’n was van papiermaché en wol gemaak. En toe daag ek daar op en dink ek het die aakligste baard, maar dit was dadelik ’n treffer. Toe ek wen, het ek dit beskou as ’n teken dat ek so moet aangaan.”

[caption id="attachment_131757" align="alignnone" width="600"]Little Bear terwyl sy optree. Foto: Collect/PA Real Life Little Bear terwyl sy optree. Foto: Collect/PA Real Life[/caption]

Little Bear het kort voor lank besef sy kan ’n bestaan voer uit haar baard. “Ek het die Wreckless Freeks, ’n sirkusgeselskap wat as byvertoning opgetree het, ontmoet. Hulle het besef ek het ’n regte baard en gevra: ‘Wil jy deel van ons byvertoning wees?’ Ek het toe besef ek kan ’n loopbaan hieruit maak.”

Sy het sonder sirkuservaring ses maande lank geleer hoe om dinge te doen. Sy het gehou van sing op skool en het besluit om opera en burlesk by haar vertoning in te werk. Sy tree nou al die afgelope twee jaar met die Wreckless Freeks op.

“Vriende en familie was eers bang dat dit vernederend sou wees of dat ek ’n spektakel sou wees, maar ek’s dolgelukkig om myself te vertoon. Mense aanvaar ons en hou van wat ons doen.”

[caption id="attachment_131753" align="alignnone" width="611"]Little Bear en The Mighty Lurch van Wreckless Freaks. Foto: Collect/PA Real Life Little Bear en The Mighty Lurch van Wreckless Freaks. Foto: Collect/PA Real Life[/caption]

Sy het sedertdien uitgemaak met die kêrel wat haar aangemoedig het om op te hou skeer.

Little Bear sê sommige mense is opreg verskrik met haar voorkoms en bevraagteken selfs haar geslag of probeer skelmpies foto’s van haar neem.

“Ek moes al hoor: ‘Jy moet dit skeer,’ en het al gesien hoe mense foto’s van my neem. ’n Ou het eendag by die supermark verward na my gekyk en ek het gesê: ‘Kan ek help?’ en toe raak hy verleë. Dit het aanvanklik seergemaak, maar deesdae glimlag ek net vir hulle of staar terug. Daar sal nou meer nadelige gevolge wees as ek sou skeer, want ek is ’n woordvoerder vir POS en vroue met ’n baard. Ek is trots op wie ek is.”