As jy dink dis moeilik om te bly by jou Nuwejaarsvoorneme, het jy nog nie van Beautiful Existence gehoor nie.

Dié 40-jarige vrou van Seatlle in Amerika het in 2013 voorgeneem om die hele jaar net Starbucks-kos te eet. En sy het dit sowaar gedoen!

Beautiful het op haar blog, for1yearofmylife.com, geskryf oor dié ervaring. Sy het elke maand tussen R5 300 en R6 400 aan slaaie, toebroodjies en deeghappies van dié koffiewinkel bestee. Sy het inkopies gedoen om vir haar twee seuns tuisgemaakte etes te voer, maar het wel soms vir hulle lekkernye van Starbucks huis toe gebring.

Waarom dié vreemde voorneme? “Starbucks betaal goeie voordele aan deeltydse werkers. Dis waarheen my geld gaan.”

Hoewel sy enduit met Starbucks vasgebyt het, was dit nie aldag maklik nie. Die moeilikste maaltyd was toe Beautiful Starbucks-beskuitjies op Kersdag moes eet omdat sy nie beplan het nie.

Haar eerste maaltyd vir die 2014 was vis en skyfies. “My tong doen al 24 uur bollemakiesie,” het sy op haar blog geskryf.

[post-slider]

Beautiful het in 2011 ’n jaar lank net by liefdadigheidswinkels inkopies gedoen en in 2012 elke ouerskapswenk in die tydskrif Parents magazine slaafs nagevolg.

Wat beplan sy vir 2014? Vanjaar gaan sy meer as 80 ontspanningsportsoorte leer beoefen.

Bronne: 1yearofmylife.com, businessinsider.com, eonline.com, instagram