Een van die vernaamste verkoopspunte van die Blackberry-slimfone is die kitsboodskapdiens, BBM, wat altyd saam met die Blackberry-pakket aangebied is.

En nou het Thorsten Heins, die hoof uitvoerende beampte van Blackberry, op ’n drie dag lange BlackBerry Live-konferensie aangekondig die gewilde BBM-diens gaan platforms oorsteek en sal ook op iOSC en Android beskikbaar wees, nogal as ’n gratis app.

“Dis hoogtyd om BBM aan ’n groter gehoor te bied ongeag watter mobiele toestel hulle gebruik,” het Thorsten in sy aankondiging oor die nuwe uitbreiding gesê.

Hulle beplan om BBM so ten volle funksioneel moontlik op die nuwer platforms te maak. Eers sal boodskap- en groepfunksies bekendgestel word, waarna Voice, Screenshare, Video en Channels deur die loop van die jaar sal volg.

BBM sal in staat wees om iOS-hardeware met die iOS6-bedryfstelsel of latere weergawes te ondersteun. Android sal ook versoenbaar wees met weergawe 4.0 (Ice Cream Sandwich) en latere weergawes.

Maar hoekom nou hul eksklusiewe BBM met die res van die mark deel, veral aangesien dit al lank die Blackberry-slimfone se vernaamste aantrekkingskrag was?

“Ons voel die platform en sy produkte staan op sy eie bene,” sê Thorsten. “Daarom is die tyd nou reg om BBM op ander platforms bekend te stel en dit op sy eie te laat floreer.”

Die jongste besluit is ’n waagstuk vir die maatskappy; hulle het soveel lojale verbruikers wat juis dol is oor hul Blackberry danksy die toegang tot BBM. Maar met voortdurende wedywering met ander kitsboodskapdienste soos Whatsapp, is dit dalk ’n goeie tyd om ander platforms aan hul kitsboodskapdiens bekend te stel.

Wat dink jy? Is dit ’n goeie sakebesluit? Of het Blackberry pas hul sleutelbate verkoop? Sou jy ’n Blackberry koop as jy tussen dié foon en ander soos ’n Samsung en iPhone moes kies wat ook binnekort die BBM-kitsboodskapdiens sal kan bied?

-    Deur Faiza Mallick