Barry Roux, SC, het gesê Oscar het homself bewapen nadat hy die geluid gehoor het en sy onmiddellike reaksie was om die sneller te trek.

“Hy het by die deurgestaan en was kwesbaar en angstig met sy vinger op die sneller. Hy het die skote afgevuur toe hy die geluid hoor,” het Barry gesê.

Oscar staan tereg weens moord; hy word daarvan aangekla nadat hy sy meisie, Reeva Steenkamp, op Valentynsdag verlede jaar geskiet het.

Hy het haar deur ’n geslote toiletdeur in sy huis in Pretoria geskiet.

Oscar pleit onskuldig en beweer hy het haar vir ’n inbreker aangesien wat hom sou aanval. Die staat beweer hy het haar tydens ’n rusie geskiet en dit was vooraf beplan.

Hy staan ook tereg op aanklagte van die oortreding van die Vuurwapenbeheerwet. Hy word aangekla van die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie, en die roekelose skiet van ’n vuurwapen in die openbaar. Hy het onskuldig gepleit op alle aanklagte.

“Ons gee nie voor die beskuldigde het hom nie bewapen nie,” het Barry Vrydag tydens sy slotbetoë gesê.

“Hy het hom bewapen. Hy het na die toilet gegaan. Hy het voorsien dat dit nodig sou wees om die skote te vuur. Hy was angstig en bang,” het Barry gesê.

Die hof moes eenvoudig besluit of die skiet na die deur net ’n refleks-aksie was en of dit ’n refleks gekombineer was met die kognitiewe.

As Oscar bloot weens refleksaksie geskiet het, sou dit bewys hy het ’n gebrek aan kapasiteit gehad.

As dit ’n kombinasie van reflekse en die kognitiewe was, sou die hof verken wat die gedagte agter die daad was, het Barry gesê, en het bygevoeg die gedagte in Oscar se kop was dat hy in gevaar was.

Die aanklaer Gerrie Nel het Donderdag sy slotbetoë afgesluit.

Hy het Oscar ’n verskriklike getuie genoem wat sy getuienis aangepas het.

Barry het Vrydag gesê die getuienis van kapt. Chris Mangena, ’n ballistiese kenner vir die polisie, het gewys Oscar was nie direk voor die toiletdeur toe hy skiet nie, maar het eerder by die badkamer gestaan.

“Dit bewys hy was eintlik bang en het nie die persoon agter die deur vertrou nie,” het Barry gesê.

Hy was sowat 2 m van die deur toe hy skiet en Reeva noodlottig wond.

In verwysing na WhatsApp-boodskappe tussen Reeva en Oscar het Barry Gerrie se voorstel afgewys dat die “ongelukkige” boodskappe tussen die twee (sowat ’n tiende van die boodskappe wat hulle gewissel het) dra die meeste gewig.

Reeva het op 27 Januarie verlede jaar ’n boodskap aan Oscar gestuur waarin sy sê sy is bang vir hom.

Op 7 Februarie verlede jaar het sy nog ’n boodskap gestuur waarin sy sê sy is ongelukkig saam met hom.

Barry het beweer die daaropvolgende boodskappe was liefdevol.

’n Veiligheidswag wat in die verhoor getuig het, het die hof vertel Oscar het gesê “alles is oukei” nadat hy hom kort ná die skietvoorval gebel het.

Gerrie het Oscar Donderdag daaroor gekritiseer, en gesê ’n redelike reaksie van Oscar sou wees om die veiligheidswag se hulp te vra.

Barry het Oscar Vrydag verdedig en het gesê daar is ’n rede daarvoor.

Oscar sou reeds hulp van een van sy bure, ’n dokter, gekry het, die paramedici was reeds ontbied en hy kon nie met die wag praat nie omdat hy gehuil het.

- Sapa