Barry Roux, SC, het gesê die staat se weergawe is onwaar; hulle beweer die atleet suig sy weergawe uit die duim dat hy sy meisie Reeva Steenkamp vir ’n inbreker aangesien het.

Barry voer aan Oscar het die eerste mense op die toneel vertel hy het haar vir ’n inbreker aangesien.

“Hy het dit herhaal en het die borgtogaansoek ingedien voor hy die dossier gesien het,” het Barry gesê. “Op watter basis sê u dus hy jok?” Barry het gesê Oscar was nalatig.

'Dit is strafbare manslag.'

“Dit is strafbare manslag; dis waaroor die saak moes gehandel het.”

Oscar staan tereg weens moord. Hy word hiervan aangekla nadat hy Reeva op Valentynsdag verlede jaar deur ’n geslote toiletdeur in sy huis in Pretoria geskiet het.

Oscar pleit onskuldig en beweer hy het haar vir ’n inbreker aangesien wat hom sou aangeval het. Maar die staat beweer hy het haar tydens ’n rusie geskiet en dat hy opgetree het met voorbedagte rade.

Hy staan ook tereg op aanklagte van die oortreding van die Vuurwapenbeheerwet. Hy word aangekla van die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie, en die roekelose skiet van ’n vuurwapen in die openbaar. Hy pleit onskuldig op alle aanklagte.

Vrydag het Barry gesê die staat se onvermoë om bewyse “met rus te laat”, het vrae laat ontstaan, en dit kan beteken die toneel is versteur.

Hy het gesê staatsgetuies het erken hulle het met bewyse gepeuter. Hy het die hof twee foto’s gewys. Op die een kan ’n hand gesien word wat die gordyn in die slaapkamer oophou.

“Hoekom moet die gordyn oopgehou word? Hoekom nie net ’n foto neem sonder dat iemand die gordyn oophou nie sodat dit ’n akkurate voorstelling is?”

Hy het ook gepraat oor ’n multikragpunt en het ’n foto gewys wat in die slaapkamer geneem is.

“Die ongelukkige gevolg hiervan is dat mnr. Pistorius kruisondervra is dat daar nie plek vir die multikragpunt was nie,” het Barry gesê.

Hy het beweer hulle het Woensdag ’n foto van die staat gekry van ’n hand wat ’n kragprop inprop of uithaal.

“Het hy dit ingeprop of uitgehaal? Wat ons bekommer, is dat die foto in die staat se besit was.

“Die staat moes hiervan geweet het.”

Volgens Barry kan die staat geensins beweer dat die toneel nie versteur is nie.