Huisgenoot het Woensdag berig oor die tragiese gebeure toe twee renosterwesies by 'n renosterweeshuis in KwaZulu-Natal doodgemaak is.

Van die werknemers is aangerand en een vrou is na bewering onsedelik aangerand.

Mense oor die wêreld heen – insluitend internasionale bekendes – was so ontroer deur die renosterwesies se ellende dat meer as R400 000 binne 24 uur ingesamel is om die weeshuis se veiligheidsmaatreëls op te skerp en na die oorblywende renosterwesies om te sien.

“Dit is absoluut wonderlik. Ek kan nie glo hoe baie steun ons van oor die wêreld ontvang het nie,” sê Françoise Malby-Anthony van 'n renosterfonds wat ná die tragedie gestig is.

Die Hollywood-aktrise Alicia Silverstone het die verhaal op haar Facebook-blad gedeel en aanhangers gevra om met donasies te help.

“Ek dink ná hierdie voorval is die bewustheid van renosterstropery nog meer prominent,” sê Françoise.

Volgens haar sal die geld hul koste vir langer as ’n jaar kan dek.

“Ons gaan die weeshuis ‘Fort Knox’ en hoëveiligheidstelsels met gewapende wagte kry om die wesies op te pas. Ons voer nou oorlog.”

“Ons hoofprioriteit is om hierdie wesies te beskerm en vir die nageslag te bewaar.”

Intussen is twee verdagtes met ’n .458-jaggeweer op Ermelo vasgetrek.