Dit was net nog ’n dag in die lewe van Wayne Ingram, ’n Britse soldaat op patrollie in Bosnië.

Maar op dié dag in 2003 het Wayne (46), wie se twee seuns toe nog klein was, se pad gekruis met dié van Stefan Savic, ’n vierjarige seuntjie.

[caption id="attachment_152990" align="aligncenter" width="520"]Foto: www.wayneingram.com Foto: www.wayneingram.com[/caption]

Wayne was ’n stafsersant in die 9de/12de Royal Lancers en was op ’n stabiliseringsending in Bosnië toe hy voorgestel word aan Stefan en sy ouers, Milos en Slava.

Die meeste mense het net na Stefan gestaar, maar nie Wayne nie. Nee, hy het daardie dag belowe om Stefan te help.

Want sien, Stefan is gebore met ’n toestand wat bekend staan as die Tessier-gesigspleet, berig MailOnline. Die toestand het veroorsaak dat Stefan se oë 4,5 cm verder van mekaar af was as normaal.

Daarby het hy nie ’n normale neus nie. Waar Stefan se neus moes gewees het, was ’n stuk plat been. Dit het begin om teen sy skedel te druk en sy oë so ver van mekaar af te stoot dat hy in ’n stadium nie meer kon sien nie.

Daardie dag het Wayne vir Stefan belowe hy gaan vir hom die beste behandeling in Brittanje kry.

[caption id="attachment_152991" align="aligncenter" width="600"]Foto: www.wayneingram.com Foto: www.wayneingram.com[/caption]

“Buiten sy gesigsmisvorming was hy net ’n normale seuntjie wat daarvan gehou het om te speel,” het Wayne aan MailOnline gesê.

“Ek het destyds self twee klein seuntjies gehad en daar was net geen manier dat ek kon terugstaan en niks doen nie. Ek het dadelik geweet ek gaan alles doen wat ek kan om te help.”

Sedertdien het Wayne £140 000 ingesamel ondanks die feit dat dr. David Dunaway, ’n plastiese chirurg, gesê het hy sal die operasies gratis uitvoer. Die geld wat Wayne ingesamel het, is gebruik vir vliegkaartjies, visums, verblyf in Brittanje en kos, berig MailOnline.

[caption id="attachment_152993" align="aligncenter" width="600"]Foto: www.wayneingram.com Foto: www.wayneingram.com[/caption]

Stefan se eerste operasie was in Oktober 2003 in die Great Ormons Street-hospitaal in Londen. Tydens dié operasie is al Stefan se tande verwyder. In Oktober van dieselfde jaar het Stefan ’n 12 uur lange operasie ondergaan wat onder meer die dekonstruksie en rekonstruksie van sy skedel behels het.

In 2007 is Stefan weer geopereer. Dit was die begin van die opbouing van Stefan se nuwe neus, sê Wayne op sy webtuiste. Hy was in 2017 weer onder die mes, dié keer om onder meer sy tande reguit te maak.

Ná vyf operasies, waarvan die laaste in Oktober verlede jaar was, het Stefan ’n normale neus.

“Ek is baie trots,” het Wayne gesê oor Stefan wat nou vir hom soos een van sy seuns is.

“Die hele ding was ’n mallemeule van emosies. Die verandering is werklik merkwaardig.

“As jy 13 jaar gelede vir my gesê het ek gaan lewenslange vriende word met ’n seun van Bosnië en sy familie, sou ek dit nie geglo het nie.

“Maar daar is nou ’n onbreekbare band tussen my, Stefan en sy familie.”

Bronne: Daily Mail, www.wayneingram.com