[caption id="attachment_159205" align="alignnone" width="600"]Foto: Bennet familie Foto: Bennet familie[/caption]

Barmhartige Samaritane het geld geskenk vir Julie en Mike Bennet se kinders nadat ’n foto uitgereik is van die paartjie wat op hul sterfbed hande vashou.

Luke (21), Hannah (18) en Oliver (13) sê op hul JustGiving-bladsy hulle is baie dankbaar oor die bystand wat hulle in die moeilike tyd van al die bydraers ontvang het.

Julie en Mike het albei aan kanker gely en het hul laaste dae saam in ’n hospies deurgebring.

In 2013 is ontdek Mike, ’n kabinetmaker wat vir homself gewerk het, het ’n breingewas. Sy gesin het hom tuis versorg.

In Mei 2016 is borskanker gediagnoseer by Julie, ’n laerskoolonderwyseres. Die kanker het na haar lewer en niere versprei.

Op die hartverskeurende foto klou Julie aan haar sterwende man se hand vas.

[caption id="attachment_169910" align="aligncenter" width="600"]PHOTO: Bennet Family FOTO: Bennet Familie[/caption]

Mike is op 6 Februarie op 57 oorlede, terwyl Julie vyf dae later op 50 gesterf het.

Familie en vriende van die egpaar het beloof om die kinders by te staan en hulle hul ambisies te help vervul.

Hulle het ’n veldtog begin om vir die drie kinders geld in te samel.

Heather Gallagher, ’n vriendin van die gesin, het Mike en Julie in ’n onderhoud met die Britse ITV as liefdevolle ouers beskryf.

“Hulle was die mees ondersteunende ouers en het van baie vroeg af hul kinders se belangstelling in dans en toneelspeel aangemoedig,” het sy gesê.

[caption id="attachment_169908" align="aligncenter" width="600"]PHOTO: Bennet Family FOTO: Bennet Familie[/caption]

“Al drie kinders floreer op die verhoog. Ek weet Julie en Mike sou nie wou hê hul heengaan moet keer dat die kinders dans en toneelspeel nie. Om dit te doen, moet ons hulle weer aan die gang kry en die koste dek wat daarmee gepaardgaan,” het sy bygevoeg.

Intussen stroom liefdevolle boodskappe op hul geldinsamelingsblad in.

Sources: SkyNews. DailyMail.TheGardian. iTVnews.

– Nombulelo Manyana