Die lenige blondekop laat nie meer met haar speel nie. Barbie, die immergroen speelpop, gaan bioskoop toe, en dié keer sal ’n regte aktrise die rol van die ikoon op die silwerdoek vertolk. Die fliek behoort ideaal te wees vir 'n ma-en-tienerdogter-uitstappie.

Barbie het in 1959 die eerste keer haar buiging in jong meisies se lewe gemaak, maar sy is nog net in animasie-rolprente uitgebeeld. Nou het Sony die regte by Mattel (Barbie se moedermaatskappy) bekom om ’n regte, egte vollengte-Barbie-fliek te maak.

Jenny Bicks, die skrywer van What Women Want, het die draaiboek geskryf. Dit gaan blykbaar ’n makkerkomedie wees waarin ’n oorwerkte burokraat ’n assistent soek. Walter F. Parkes en Laurie MacDonald sal die fliek in samewerking met Sony vervaardig.

“Ons het nog altyd gedink die Barbie-storie het baie potensiaal, maar oneindige moontlikhede het oopgegaan toe Jenny, Walter en Laurie na ons kom met hierdie onverwagte, slim en werklik snaakse konsep.

“Dit vang alles van wat Barbie oor generasies heen ’n legende gemaak het, maar die konsep staan ook op sy eie en sal Barbie as ’n oorspronklike fliekkarakter vestig. Ons is vol vertroue dat Barbie gehore sal vermaak, ongeag waarna haar avonture sal lei,” het Sony se Hannah Minghella gesê.

- Almari Wessels