Barbra Streisand sê dis Amerika se pres. Donald Trump se skuld dat sy onlangs begin gewig aansit het.

[caption id="attachment_162620" align="alignnone" width="600"]Foto: Cover Media Foto: Cover Media[/caption]

Vandat hy in Januarie vanjaar ingehuldig is, veroorsaak die nuwe Amerikaanse leier amper elke dag omstredenheid. Barbra was ’n stoere ondersteuner van Hillary Clinton, Trump se teenstander om die presidentskap.

Saterdag het sy op Twitter beweer om nuus te kyk en die gevolge te sien van hoe die voormalige Apprentice-aanbieder die magtigste land ter wêreld lei, het haar eetgewoontes nadelig beïnvloed.

“Donald Trump laat my gewig aansit. Ek begin die dag met vloeistowwe, maar nadat ek die oggendnuus gekyk het, eet ek pannekoeke wat drup van die esdoringstroop!” het die Funny Girl-ster getwiet.

Een van Trump se onlangse opspraakwekkende bewerings was dat sy voorganger, oudpres. Barack Obama, se administrasie tydens verlede jaar se verkiesingsveldtog ingeluister het op fone in Trump Tower. Ná sy bewering het die Withuis die Kongres aangesê om die saak te ondersoek, maar Barbra sukkel om te verstaan wat Trump nou eintlik beweer.

“Trump het Obama pas daarvan beskuldig dat hy sy foongesprekke laat meeluister het. Regtig gekke tye,” het sy later geskryf. “Tyd vir nog pannekoeke.”

Barbra het nog nooit haar liefde vir ongesonde peuselkos probeer wegsteek nie. In ’n onderhoud met Dr. Oz in 2014 het die 74-jarige sangeres vir die aanbieder gesê: “Ek hou van koffieroomys – en ons gaan kuier by mense en ek kan nie eens die brood weerstaan nie.

“Ek is ’n kosslaaf. Eerlikwaar . . . Ek kan nie wegbly van kos af waarvan ek hou nie, wat sleg is vir my – jy weet, soos koolhidrate wat sleg is. Ek is nog ’n onvoltooide werk wat voeding betref.”

In ’n gesprek met Sky News het sy bygevoeg haar gewigstoename is iets waaroor sy haarself die meeste kasty.

“Om my daaroor te moet bekommer om my maag in te trek wanneer ek op die verhoog is of iets,” het sy gesê. “Ja, ek hou van eet en ek haat oefening . . .

“Ek moet my dwing om te oefen en my dwing om te verslank, maar darem binne perke . . . Ek moet die lewe geniet. Om te eet is ’n groot deel van my lewe.”

© Cover Media