Pres. Barack Obama is nou net mooi keelvol daarvoor. Hy het Vrydag ’n volledige ondersoek na die kuberkrakery gelas. Dié opdrag kom in sy laaste maand as president van Amerika voordat die nuut-verkose Donald Trump op 20 Januarie oorneem.

Hy het Vrydag vir Amerika belowe dat hulle gaan optree in reaksie op die kuberkrakery in aanloop tot die 2016-verkiesing.

"Ek dink daar bestaan geen twyfel dat wanneer enige buitelandse regering poog om ’n impak te maak op die integriteit van ons verkiesings . . . dat ons moet optree. En ons sal. Op ’n tyd en ’n plek wat ons self kies.

"Van dit mag eksplisiet wees en openbaar gemaak word, van dit dalk nie."

Die Russe het vinnig teruggekap en ontken dat daar gronde vir die Amerikaanse bewerings ongegrond is. Volgens gerugte het Wladimir Poetin dit glo die bewerings betreklik amusant gevind.

Die gerugte loop intussen baie sterk dat die Russiese president persoonlik sy intelligensieagentskappe gemonitor het terwyl hul krakers doenig was met die Amerikaanse verkiesing. Daar word ook beweer dat hy dit ten doel gehad het om die Amerikaanse demokrasie in ’n slegte lig te stel tot voordeel van Donald Trump.

Tot dusver eindig die gerugte kort duskant bevestiging dat Wladimir wel regstreeks betrokke was. Die man was immers ’n KGB-offisier en hy het ’n baie sterker greep op alle Russiese intelligensie-, militêre, burgerlike en binnelandse operasies as enige demokratiese leier elders.

Die Russiese minister van buitelandse sake, Sergey Lavrov, was glo "verstom' deur al die beweringe rondom Wladimir se betrokkenheid.

"Ek dink dis bloot net simpel," het hy aan die Rossiya-24, die Russiese staatstelevisiestasie, gesê.

Van die kwesbare punte wat deur die krakers geteiken is, is die stemregistrasiestelses op staats- en plaaslike vlak. Alhoewel daar pogings was om die stelsels binne te dring, kon daar tot dusver geen klinklare bewyse van Russiese betrokkenheid gevind word nie.

Selfs voor die verkiesing het die Amerikaanse regering in die openbaar ’n vinger na Rusland gewys oor bewerings dat daar kuberaanvalle van stapel gestuur is om die resultate van die verkiesing te beïnvloed. Die Demokratiese nasionale komitee het onder kuberkrakers deurgeloop.

Dan is daar natuurlik die talle e-posse van Hillary Clinton se adviseur, John Podesta, en Demokratiese groepe wat voor die verkiesing op ’n onverklaarbare manier uitgelek het. Dit het die Demokrate ’n geniepsige hou toegedien.

Eric Schultz, woordvoerder van die Withuis, het dit duidelik gestel dat die ondersoek nie daarop gemik is om die resultate van die 2016-verkiesing te bevraagteken nie.

Die verskillende intelligensieagentskappe het ook nie aangedui dat die kuberaanvalle daarop gemik was om Donald Trump se kanse op die presidentskap tydens die verkiesing te verhoog nie.

Maar dit was duidelik dat die onregmatige gekafoefel in die kuberruim die Demokrate en Hillary aansienlik baie meer skade berokken het.

Wat van die nuut-verkose president?

Donald ontken deurentyd enige Russiese betrokkenheid by die kuberkrakery, ongeag oorweldigende terugvoer van privaat-kuberveiligheidsmaatskappye en verskeie Amerikaanse intelligensieagentskappe wat wel sterk daarop dui. Hy het na bewering selfs die spot met die bevindinge gedryf.

Maar selfs uit Donald se eie geledere word daar van hom verskil. Senator John McCain het aan CNN gesê dat hy "vir Rusland gaan, op enige manier waarop jy wel vir Rusland kan gaan."

Hy het ook nie baie ooghare vir die Russiese leier, Wladimir Poetin nie. "Ek wil hê Poetin moet persoonlik 'n prys (hiervoor) betaal."

Eric het voorts aangedui dat die ondersoek deur Amerikaanse intelligensieagentskappe dalk tot so ver terug as 2008 sal strek.

Bronne: washingtontimes.com, edition.cnn.com, abcnews.go.com, npr.org, reuters.com