8 Februarie word jaarliks daar as ’n feesdag vir die nederige aartappel opsy gesit. Dit is die één dag waarop koolhidrate hartlik verwelkom word.

Lees ook: Man dok byna R18 miljoen op vir foto van ’n aartappel

Daar is so baie dinge wat jy met ’n aartappel kan aanvang – van slaaie, kapokaartappels tot alleenstaande disse, gekook, gebraai of gerooster. Skuif nader en vind meer uit oor die “appels uit die grond”!

Lees ook: Hierdie koolhidrate beïnvloed nie jou gewig nie

Kitsfeite oor aartappels

  1. Aartappels dateer terug tot ongeveer 5000 vC en Peru word as die land van oorsprong beskou.
  2. Die antieke Aymara-mense het meer as 200 aartappelvariëteite ontwikkel voordat die Incas hulle oorwin het.
  3. Die Incas het aartappels as ’n wonderkuur beskou en ook vas geglo dat dit kindergeboorte makliker maak.
  4. Die eerste gekweekte aartappels was pers, maar het ’n diep blou kleur ontwikkel as dit gekook word.
  5. Tydens die groot hongersnood in Ierland van 1845 tot 1852, te wyte aan laatroes, het die tekort aan aartappels tot die dood van sowat een miljoen mense, wat as ’n voedselbron daarop staatgemaak het, gelei.
  6. Die Spanjaarde beweer hulle het aartappels in 1550 aan Europa bekend gestel. Die Iere stem egter nie saam nie. Hulle beweer sir Walter Raleigh het dit in 1585 na Europa gebring.
  7. Die Beierse Oorlog van Opvolging wat van 1778 tot 1779 gestrek het, het ook as die Aartappeloorlog bekend gestaan. Die arme soldate aan albei kante was so verhonger dat hulle die meeste van die tyd spandeer het om aartappels uit te grawe.
  8. In die 18de eeu is aartappels as nagereg opgedien: warm en gesout op ’n servet.
  9. Natuurlik bly bygelowe nie agter nie. Daar’s in ’n stadium geglo dat ’n geskilde aartappel in jou sak tandpyn laat verdwyn. En ’n droë aartappel om jou nek sal rumatiek kortwiek.
  10. Las van vratte? In dele van Europa en Amerika was dit glo die gebruik om rou aartappels daaroor te vryf om dit te laat verdwyn.
  11. Aartappels se hoogste voedingswaarde is verskuild in die skil.
  12. Terloops, die eerste aartappelskyfies is reeds in 1853 uitgevind.
  13. Daar was selfs ’n aartappelmonument in Duitsland met die inskripsie: “Aan God en Francis Drake, wat aan Europa tot voordurige voordeel van die armes gebring het – die aartappel”.

[post-slider]

“My idee van die hemel is ’n groot gebakte aartappel en iemand om dit mee te deel,” is kletskoningin Oprah Winfrey se filosofie.

Bronne: foodimentary.com, independent.ie, nppga.org, sciencekids.co.nz, swampyacresfarm.com, goodreads.com

– Saamgestel deur Annelene Oberholzer

Vier smullekker resepte met aartappels

Aartappelskille

Aartappelsnoekslaai

Dauphinoise aartappel-en-tamatie-gebak

Spoggerige vis en tjips