So meen Greyling Viljoen, ’n sportsielkundige van Pretoria.

“As ’n speler se liggaam hom nog toelaat om op internasionale vlak mee te ding, speel ouderdom nie juis ’n rol nie,” sê Greyling.

Navorsing toon daar is sowat agt jaar waartydens topatlete internasionaal kan meeding. “Dit beteken gewoonlik so twee wêreldbekertoernooie,” verduidelik Greyling.

Bakkies (34) het op 23 die eerste keer in ’n Springboktrui uitgedraf. Hy was ook deel van die span wat die Wêreldbeker in 2007 verower het. Hy draf ook Saterdag in die beginspan vir die Springbokke teen Skotland uit.

Tog verleng baie rugbyspelers, soos Bakkies, hul loopbaan danksy geleenthede om vir buitelandse klubs te speel.

Dit is eers wanneer ’n speler motivering begin verloor dat daar gevaarligte vir hul loopbaan begin flikker. “Dikwels verander spelers se prioriteite mettertyd: Hulle wil byvoorbeeld meer tyd saam met hul gesin deurbring en minder toer.”

En wat van Bakkies se jonger spanmaats wat hom “oom” noem? “So iets sal sommige spelers, veral dié wat self al glo hulle is te oud om in die span te wees, nadelig beïnvloed,” meen Greyling. “Ek dink egter nie dit sal Bakkies raak nie.”

’n Internasionale rugbywedstryd verg ook heelwat emosionele energie. Hier kan Bakkies se ervaring juis ’n aanwins wees vir hom en die span. Hoewel Bakkies soms sukkel om sy humeur op die veld te beteuel, is hy tog volwassener as van die nuwelinge. “Hy weet hoe om groot oomblikke te hanteer, en hy sal sy spanmaats op die veld kan beïnvloed sodat hulle goeie besluite neem.”

Shané Barnard

Ekstra bronne: www.sarugby.co.za