JY KAN maar sê die lewe is nou bakgat vir Cherié van der Merwe – en dis nie net omdat Bakgat 2 waarin sy die rol van Katrien hervat, die loketrekords laat spat nie.

“Drie jaar gelede het ons in die bloedige son by die KKNK op Oudtshoorn gestaan en promosie-poskaarte uitdeel,” vertel die aktrise, wat op 25 meer soos ’n langbeen-matriekmeisie lyk.

“Ons moes mense omtrent smeek om na Bakgat te kom kyk. Amper niemand het van die fliek geweet nie.”

Maar daardie ure se gestaan in die Karoo-son – saam met ’n goeie draaiboek en knap toneelspel – het destyds die wa deur die drif getrek. Fliekgangers het nie net van die romantiese tienerfliek Bakgat kennis geneem nie, maar was gaande daaroor.

En nou, drie jaar later, met die opvolg vars in rolprentteaters, loop Bakgat-koors weer hoog.

“Nou word ons darem na winkelsentrums genooi en sit ons agter tafels en deel handtekeninge uit,” vertel Cherié laggend.

Sy is duidelik beskeie oor Bakgat 2 se wegholsukses. Die fliek het in sy openingsnaweek R1,45 miljoen laat inrol – die

meeste nog vir ’n Afrikaanse fliek. Teen die tweede week het dit die R2,5 miljoen-kerf verbygesteek en dis nou goed op pad om die Afrikaanse fliek te word wat nog die meeste geld by die loket gemaak het.

“Sjoe, dis nogal ’n ding,” sê Cherié opreg verbaas en byna net so naïef soos haar karakter in die twee flieks.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 21 Oktober 2010