Porsies: 10 (indien 1 Marie-beskuitjie per kind gebruik word)

Jy benodig:

  • 60 g ongesoute botter, teen kamertemperatuur
  • 250 ml (1 k) versiersuiker, gesif
  • 2,5 ml (1/2 t) vanieljegeursel
  • 25 ml melk
  • 1 ml (1/4 t) voedselkleursel (gebruik  kleure van jou keuse)
  • lekkergoed soos Jelly Tots, Smarties, stukkies Liquorice Allsorts, mini-malvalekkers, ensovoorts
  • 10 Marie-beskuitjies

Maak so:

Plaas die botter in ’n elektriese menger en klits tot glad. Voeg 125 ml van die versiersuiker by en hou aan klits tot gemeng. Voeg die vanieljegeursel, melk en die res van die versiersuiker by en klits tot dit ’n smeerbare versiersel is. Verdeel die versiersel tussen aparte bakke (na gelang van hoeveel kleure jy wil hê) en meng ’n ander voedselkleursel by elk in. Gee die kinders elk ’n plastiekmes en laat hulle die kleur versiersel van hul keuse op die beskuitjies smeer. Wys hulle hoe om die beskuitjies met die lekkergoed mooi te maak deur dit op die versiersel te pak. As jy ’n versier-sak het, spuit ‘hare’ op die beskuitjies en laat hulle gesiggies pak met die lekkergoed.

Wenk

Die aktiwiteit is prettig, veral as jy die kinders binnenshuis moet besig hou as dit reën. In plaas van lekkergoed kan kleurstrooisel (hundreds and thousands) of sjokolade-vermicelli ook gebruik word. Maak ook ‘beskuitjie-toebroodjies’: plak twee beskuitjies met ver siersuiker op mekaar of doop in gesmelte witsjokolade.

  • Hierdie resep kom van Maaltye sonder moeite deur Debbie Wareham en Kim Jurgens. Klik hier vir nog inligting oor hierdie nuttige resepteboek.

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.