Johannesburg –

Die hittegolf kom terwyl groot dele van die land ook vernietigende droogtetoestande ervaar.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het in hul daaglikse voorspelling gesê ’n hittegolf met “voortdurend hoë temperature” word tot Dinsdag oor Gauteng, Mpumalanga, Limpopo en die oostelike dele van Noord-Wes verwag. Die temperatuur in Skukuza in Mpumalanga en Musina in Limpopo sal na verwagting Maandag 40 grade bereik. Die verwagte maksimumtemperatuur vir Lephalale in Limpopo is 39, Vryburg in die Noord-Wes 38 en Pretoria 37.

Dinge sal na verwagting nog vererger en in Desember ’n hoogtepunt bereik

Toestande vir ’n uiters hoë brandgevaar word ook in dele van Limpopo verwag.

Dr. Francois Engelbrecht van die Raad vir Wetenskaplike en Industriële Navorsing het verlede maand aan News24 gesê 2015 gaan die warmste jaar wees wat nog aangeteken is.

Hy het gesê die wêreldwye toename in die temperatuur word deur aardverhitting en die El Niño-verskynsel veroorsaak.

El Niño is die verhoging van die Stille Oseaan se normale temperature wat dikwels tot uiterste weertoestande lei.

“Elke twee tot sewe jaar word die Stille Oseaan warm. Ons beleef nou so ’n gebeurtenis en die seetemperature is warmer as gewoonlik,” het Francois gesê.

“Die verskynsel sal na verwagting nog vererger en in Desember ’n hoogtepunt bereik.”

Bron: News24