Die liefde wat Susan Prinsloo* van Pretoria op ’n maatsoekwebtuiste gevind het, het ’n bitter (en duur) smaak nagelaat toe ’n man glo vort is met haar geld.

nickmain
Iemand by wie sy gedink het sy eindelik weer liefde gevind het, het daarin geslaag om R90 000 uit haar uit te kry en het glo die pad daarmee gevat.

Susan (52), ’n ma van twee seuns en die afgelope agt jaar ’n weduwee, het in 2015 aangesluit by ’n webtuiste vir enkellopendes in die hoop dat sy dalk daar ’n maat sou ontmoet.

“Ek het Nick Heeren (56), ’n argitek van Amsterdam in Nederland wat Kaap toe getrek het, ontmoet. Nick het glo vertel hy is ook ’n wewenaar en het ’n dogter wat in Kanada woon wat in ’n sendingskool is,” vertel Susan aan Huisgenoot.

Susan het hom geglo. Sy profiel in die sosiale media het immers “baie ordentlik” en “opreg” geklink.

[caption id="attachment_139336" align="alignnone" width="400"]Nick se sosiale media profiel het vir Susan "baie ordentlik" gelyk. Nick se sosiale media profiel het vir Susan "baie ordentlik" gelyk.[/caption]

“Nick se woorde het soos stroop by sy mond uitgeloop. Hy het vertel hy is diep gelowig en hy weet ek is sy trouvrou saam met wie hy die res van sy lewe wil deurbring,” sê Susan.

Maar hoewel die tweetjies meer as ses maande met mekaar heen en weer gesels het – het hulle mekaar nog nooit ontmoet nie.

“Hy sou vir my kom kuier het in Pretoria en ek het ’n gastehuis vir hom gesoek.” Maar die planne het nooit ’n werklikheid geword nie.

“Toe laat weet hy my, sy dogter is siek en in die hospitaal in Kanada. Hy is by haar, maar sy kredietkaart is gesteel. Hy het gevra of ek hom met R50 000 kon help.”

[caption id="attachment_139337" align="alignnone" width="400"]Só het Nick vir Susan gevra om gelde aan hom in Kanada oor te betaal. Só het Nick vir Susan gevra om gelde aan hom in Kanada oor te betaal.[/caption]

Susan sê sy is ook gelowig en het geglo as Nick bestem is vir haar, moet sy hom help. Sy het toe ’n lening by haar bank aangegaan en die geld in ’n Kanadese rekening inbetaal.

Maar toe laat weet Nick glo vir Susan daar is probleme met sy kredietkaart wat verval het, en hy kan nie terug Suid-Afrika toe kom nie. Hy kort nog R40 000.

[caption id="attachment_139335" align="alignnone" width="600"]So het Susan die bedrag van R90 000 in twee aparte betalings aan Nick oorbetaal. So het Susan die bedrag van R90 000 in twee aparte betalings aan Nick oorbetaal.[/caption]

“Nick het die kontakbesonderhede van Direct Axis aan my gestuur en gesê ek moet hom kontak wanneer ek ’n lening het.

“Ek het toe R40 000 geleen en dit oorbetaal in die selfde rekening.” Daarna het Susan weer nie van Nick gehoor nie en kon hom nie weer opspoor op Facebook nie.

[caption id="attachment_139338" align="alignnone" width="600"]Nick het vir Susan vertel hy is van Nederland. Nick het vir Susan vertel hy is van Nederland.[/caption]

“Ek het deur ’n ander naam op Facebook hom gaan soek en kry hom toe. Toe ek hom vra waar my geld is, laat hy weet: ‘Ek het jou en ander vroue gevang – ha-ha.”

Susan moet nou elke maand R5 000 uit haar pensioengeld betaal om die twee lenings af te betaal.

Sy het probeer om Nick op te spoor, maar sonder welslae. “Ek kan nie glo ek was so dom nie. Dit was my eie onnoselheid,” erken sy.

* Skuilnaam