Die Wes-Kaapse hooggeregshof het beslis dit is ’n oortreding om die gebruik van dagga deur volwassenes in privaat wonings te verbied.

[caption id="attachment_166431" align="alignnone" width="603"]Foto: Getty Images Foto: Getty Images[/caption]

Daar is ook beslis die parlement moet dele van die Wet op Dwelmsmokkelary en die Wet op Medisynebeheer wysig. Hulle het 24 maande om dit te doen.

Die suksesvolle aansoek om dagga te dekriminaliseer is gedryf deur Jeremy Acton, leier van die Dagga Party, en die Rastafariër Garreth Prince. Hulle het in Desember verlede jaar hul saak daaroor gestel.

Jeremy, Garreth en 18 eisers het aansoek gedoen dat seksies van die kriminele verbod op dagga en die wet oor dwelms en dwelmsmokkelary ongrondwetlik verklaar word.

Ingevolge dié seksies is dit ’n misdaad om in die besit van ’n dwelm te wees, mits dit om ’n verskeidenheid mediese redes is. Die wet oor dwelms en dwelmsmokkelary definieer wat ’n dwelm is.

Hulle betwis ook die Wet op Beheer van Medisyne en Verwante Stowwe.

Hulle het aangevoer dat die wette wat daggaverbruik verbied, onregverdig, diskriminerend en verouderd is, en buite verhouding op swart gebruikers toegepas word.

Die twee help mense wat in hegtenis geneem is vir daggabesit deur hul regsproses te laat halt, hangende die uitslag van hul aansoek.

Garreth is in 1989 vir daggabesit vasgetrek toe hy ’n regstudent aan die Universiteit van die Wes-Kaap was. Hy het ’n boete van R60 betaal en gedink dis die einde. Maar toe hy sy graad verwerf en by die Kaapse balie aansoek doen om as prokureur toegelaat te word, is hy verwerp oor die dagga-aanklag en omdat hy geweier het om daarvoor verskoning te vra.

As Rastafariër is daggagebruik vir hom ’n godsdienstige keuse. Hy het onsuksesvol ’n aansoek by die konstitusionele hof gebring om dit te dekriminaliseer vir godsdienstige doeleindes.

Hy het ’n gemeenskapsregsadviseur geword, maar is weer in 2012 in hegtenis geneem vir die kweek van dagga in sy tuin in Kraaifontein.

Bron: News24