Naas die restaurant Nando’s se kreatiewe advertensies, is die onlangse Coca-Cola-reklameveldtog  een van die oorspronklikstes tot dusver.

Ben, Cara, Laura en Kevin het almal na die winkels gehaas en liters van dié koeldrank gekoop omdat hul naam op die blikkie of die botteltjie is. Maar gestel jou naam is nie gedruk nie? Daarvoor het Coke ’n slim plan beraam en seker gemaak almal kan ’n virtuele Coke-blikkie ontwerp en dit met vriende op Facebook of Twitter deel.

Maar hul slimstreke hou nie daar op nie. Hulle het ’n paar plaaslike bekendes se name laat druk, soos die sanger Bobby van Jaarsveld s’n. Bobby se suster, Cara Brink, het op Twitter ’n foto gelaai van twee Coke-botteltjies. Op die een staan Bobby en die ander staan Anna, nes sy vrou se naam, Annatjie. “Toevallig? Ek glo nie,” het Cara getwiet.

Ook Elvis Blue se naam is verewig in wit en rooi. “Ek het al ’n paar daarvan gesien, maar dié een het my breed laat glimlag . . . Dankie Coca Cola,” het hy opgemerk.

Die Top Billing-aanbieders Janez Vermeiren en Jeannie D het ook ’n Coke gedeel. Selfs die Protea-krieketspelers Faf du Plessis en David Miller het foto’s gedeel. “Is jy seker daar is genoeg Davids in die koelkas?” het David geskryf oor ’n foto vol Cokes met sy naam daarop.

[post-slider]

Loren Pienaar