Hoekom sou jy enigsins die kantoor hoef te verlaat as jou wasgoed gedoen word, jy enige tyd dokter toe kan gaan en heeldag lank verniet kan eet?

Groot maatskappye lok deesdae nuwe talent deur hul werknemersvoordele te verbeter.

Lees ook: So bring suksesvolle bekendes hul naweke deur

Sommige telekommunikasie- en tegnomaatskappye het ongelooflike voordele soos gratis ontbyt, ‘babatoelae’ en haarstilering en beradingsessies.

Volgens ’n lysie wat die werkgewershersiening- en werksoekwebwerf Glasdoor uitgereik het, het maatskappye soos Google, Netflix en Facebook die beste werknemersvoordele.

“Met bykans drie uit vyf mense wat sê werknemersvoordele is onder hul top-oorwegings voor hulle ’n werk aanvaar, haal sommige werkgewers alles uit as dit kom by voordele om talent te lok,” sê Glasdoor.

Volgens Money Magazine “verkies 60 persent van werksoekers maatskappyvoordele bo ’n salarisverhoging”.

Lees ook: Sjarmante jong man vra meisie om te trou op 'n unieke manier

Daarom is dit nie verbasend dat konglomerate alles uithaal om seker te maak daar word aan hul werknemers se elke behoefte voldoen.

Google bied werknemers toegang tot dokters en verpleegters op die perseel, gratis reisversekering en hulp met studies.

Dis geen geheim dat Facebook ’n droomplek is om te werk nie – veral nadat hulle ’n “babatoelaag” van sowat R63 108 vir nuwe ouers aangekondig het. En hulle maak seker hul tegno-slimkoppe eet lekker – daar is twee restaurante op hul Menlo Park-kampus in Silicon Valley, Kalifornië wat dag en nag heerlike disse voorsit – verniet!

Die wêreldwye stroomdiens Netflix het die sakewêreld verstom toe hulle aankondig nuwe ouers kry ’n jaar lank swangerskapverlof – vir ma én pa. Met hul volle salaris.

En natuurlik moes ons toe vra: Watter voordele bied groot Suid-Afrikaanse maatskappye aan hul werkers? Dis nou nie heeltemal soos Silicon Valley nie, maar daar is ’n paar lekker poste in die land – as jy weet waar om te kyk. Dis wat ons uitgevind het.

MWEB

MWEB fokus op die opbou van werknemers se vaardighede en ontwikkeling. Personeel word bederf met dienste soos wasgoed wat opgelaai word, betaling van verkeersboetes, aanlyninkopies word opgetel en daar is selfs iemand wat in toue namens werknemers staan.

Die maatskappy het sy eie M-Cave speletjiesarkade met verskeie speelstasies, PlayStation-konsoles, Xbox en arkadespeletjies. Eetareas spog met potspeltafels, tafeltennis en uithangruimtes.

Coca-Cola

Hoewel tegnomaatskappye die voortou neem met voordele, het dit ook sy voordele om vir Coca-Cola South Africa te werk. Die plaaslike afdeling bied studiebystand aan personeel, vier maande betaalde swangerskapverlof en ’n gesondheidsklubfonds om werknemers gesond te hou.

Werknemers wat ’n familielid aan die dood afstaan, kry ook R20 000 om die begrafniskoste te help dek.

Vodacom

Die selfoonmaatskappy doen ekstra moeite om seker te maak hul personeel is gelukkig. Werknemers en hul wederhelftes kry gesubsidieerde selfoonkontrakte. En hulle word bederf met spesiale dienste soos Goodfellas-bestuurdienste en Reebok-produkte. Die maatskappy het ook ’n welstandsentrum met dokters, tandartse, persoonlike afrigters, masseuses en skoonheidskundiges.

Axxsess

Suid-Afrika se grootste internet en IT-diensteverskaffers bederf personeel met ’n gesonde ontbyt uit hul eie kafeteria. Die maatskappy het ook ’n gim, wasgoeddienste en werknemers word elke Vrydag met bier bederf.

Cybersmart

Asof ’n tuisgemaakte ete Vrydae nie genoeg is nie, bied die internetdiensteverskaffer ook bestuurslesse, toegang tot die maatskappy se dokter en afslag op swemlesse van Cybersmart Aquatics.

Internet Solutions

’n Kostoelaag is maar net die begin. Om seker te maak daar word mooi na hul werknemers gekyk, het Internet Solutions ’n welstandsentrum met ’n skoonheidskundige, chiropraktisyn en verpleegters, asook ’n gim, haarsalon en oogkundige.

Webafrica

Werknemers by Webafrica se kantore kyk uit oor Tafelberg en geniet daagliks ontbyt en kry kwartaalikse personeelbonusse. Hulle word ook met spoggerige jaareindfunksies en verjaarsdagvieringe bederf.

Het jou maatskappy lekker voordele? Ons wil dit graag by ons lysie voeg! Stuur ’n e-pos na web@huisgenoot.com.

Bronne: africanbusinessreview.co.za, Glassdoor.com, mybroadband.co.za, mweb.co.za, raisingthebar.co.za, Time.com, webafrica.co.za

Saamgestel deur Litaletu Zidepa

Lees ook op Huisgenoot.com:

Leo nog ’n treetjie nader aan Oscar-glorie

Musiek kan jou liefdeslewe ’n hupstoot gee

Is wolkbrood die antwoord op jou lae-koolhidraat-gebede?

Minder oefening ‘lei tot kleiner brein’

Die eenvoudige geheim om jou selfoon se batterylewe te verleng