Die land gons oor twee kinders wat na bewering net ná geboorte in ’n hospitaal aan die Oos-Rand omgeruil is. (Lees meer hier.) Dit is ’n nagmerrie wat geen ma wil deurmaak nie: om later uit te vind die kind wat jy soos jou eie grootgemaak het is nie jou bloedfamilie nie. Al is omruilings baie skaars, is dit tog die moeite werd om met ’n paar eenvoudige stappe te help verhoed dat jy so iets moet deurmaak. Hier is ’n paar wenke:

Voor geboorte

  • Leer ken die hospitaal; gaan op ’n hospitaaltoer en oriënteer jouself met die hospitaal en sy personeel. Neem die tyd om vooraf uit te vind wat die roetine ná geboorte is en vra ook watter sekuriteitsmaatreëls in plek is. As jy wag tot wanneer jy kraam om hierdie vrae te vra, sal jy waarskynlik nie ten volle aandag kan gee nie en party besonderhede mis. Vind ook vooraf uit watter regte jou maat het, of hy oral mag saamgaan.
  • As dit ’n opsie is, oorweeg ’n geboorteplan waar jy in een kamer kraam en herstel, met jou baba wat van geboorte tot julle huis toe gaan in dieselfde kamer as jy bly.

Ná geboorte

  • Kontroleer jul armbandjies. Jy, jou maat of ondersteuner en jou baba sal ná die geboorte identifikasie-armbande kry. Maak self seker dat die bandjies dieselfde nommers en name op het en kyk dat jou baba se bandjie (om die arm of die enkel) nie te los is en dalk kan afglip nie. Weerstaan die versoeking om die armbandjie af te haal voor julle by die huis is – selfs al lyk dit dalk ongemaklik vir die baba.
  • Kyk hoe lyk jou baba. Kyk of jou baba enige uitstaande kenmerke het, soos haarkleur. Neem kennis (of reël vooraf met jou maat om dit te doen) van die belangrike syfers soos gewig en lengte.
  • Doen die ondersoeke in jou kamer. Vra die pediater of hy sy ondersoeke of eenvoudige prosedures by jou in die herstelkamer kan doen.
  • Werk as ’n span. As dit nie moontlik is om jou baba heeltyd by jou te hou nie, vind uit of jou maat of ander familielede kan saamgaan na die babasaal waar die babas gebad word en ander ondersoeke gedoen word.
  • Moenie jou baba alleen laat nie. Dit maak nie saak of jy ’n rukkie slaap, badkamer toe gaan of gaan stort nie. As jy of ’n familielid nie ’n ogie kan hou nie, vra of die baba na die babasaal geneem kan word. Wanneer jy die baba vir ’n personeellid gee, maak seker dat hulle wel vir die hospitaal werk – kyk vir kleredrag sowel as amptelike identifikasie.
  • Die hospitaalpersoneel sal weer jul identifikasie-bandjies nagaan voor julle huis toe gaan, maar kyk self ook dat jy en jou baba se bandjies ooreenstem. Kyk na die baba vir die eienskappe wat jy ná die geboorte opgemerk het, asook die gewig. Loer vinnig in die doek om seker te maak jou baba is die regte geslag!

Saamgestel deur Suzaan Hauman

Bronne: pregnancy.about.com, pregnancyandbaby.com

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.