’n Swanger vrou, bekend as Cheyanne White, het Saterdag ’n partytjie by haar huis in Cincinnati, Ohio gehou waar sy die geslag van haar ongebore baba sou onthul toe die voorval plaasgevind het.

Cheyanne is raakgeskiet en het haar baba as gevolg daarvan verloor. Nog sewe ander is gewond, insluitend drie kinders onderskeidelik 6 tot 8 jaar oud.

Een vrou is noodlottig gewond en het op die toneel aan haar wonde beswyk.

Enkele ure voor die tragiese aanval het Cheyanne op Facebook ’n inskrywing gedeel en die geslag van haar ongebore baba bekend gemaak, maar dit is intussen afgehaal.

Cheyanne het ook haar vriende en familie bedank vir hul hulp om haar spesiale geleentheid te vier.

Die euforia van geluk het egter nie lank gehou nie, want kort daarna is daar op hulle losgebrand.

Beamptes is glo uitgeroep na ’n skietvoorval omstreeks 11:30, het ’n polisiewoordvoerder Jim Love aan Fox 19 vertel.

“Vyf grootmense en drie kinders het voor die televisie gesit toe twee gewapende mans op hulle losbrand.”

Die twee mans het glo per voet gevlug.

“Die misdadigers is nog nie geïdentifiseer of arresteer nie. Ons weet ook nie of die slagoffers geteiken was nie en of dit vir iemand anders bedoel is nie.”

Bronne: Fox News, Daily Mail, nbc