Die negejarige Yuan Yuan is vroeër vanjaar kunsmatig bevrug en klein Yuan Zai het in Julie haar opwagting gemaak. Yuan Zai is die eerste panda wat nog in Taiwan gebore is.

Die babapanda was ná haar geboorte in ’n broeikas, aangesien babasterftes onder dié spesie baie algemeen is. In ’n YouTube-video kan ’n mens sien hoe Yuan Yuan met hul hereniging dadelik haar welpie optel en begin borsvoed.

Die Chinese regering het Yuan Yuan en haar maat, Tuan Tuan, in 2008 aan Taiwan geskenk. Dit was ’n teken van vriendskaplikheid tussen dié twee lande, wat in 1949, ná afloop van ’n burgeroorlog, verdeel is. Die paar se name beteken saam “reünie”.

Ná Yuan Zai se geboorte het Taiwannese amptenare bevestig die welpie mag op die eiland aanbly. China leen gewoonlik slegs hul pandas en enige welpies wat in die buiteland gebore word, moet na die vasteland terugkeer. Slegs 1 600 van dié bedreigde spesie kom nog in die natuur voor.

Deur Shané Barnard