Die vyf maande oue Mischa Brits van Despatch in die Oos-Kaap is gebore met mikrosie, ’n toestand wat veroorsaak dat haar regteroor nie behoorlik ontwikkel nie.

“Mischa is pragtig en vriendelik met almal wat sy sien, al kyk hulle haar snaaks aan oor haar oor,” vertel haar ma, Anesha (25).

mischadrie

Anesha en haar man, Herman (28), het nie voor Mischa se geboorte van die mikrosie geweet nie, maar bly optimisties.

“Dis nie tydens die sonar opgemerk nie, maar ons sal positief bly en op God vertrou vir ’n wonderwerk.

“Wanneer iemand my vra hoe ons oor haar oor voel, sal my antwoord altyd dieselfde bly: ‘God het haar vir ons gegee toe almal gesê het dis onmoontlik. Wie is ons om ondankbaar te wees?’ ” vertel Anesha.

mischatwee

Mischa se geboorte was reeds ’n wonderwerk. In ’n stadium het dokters gesê Anesha sal nie kan swanger raak omdat sy nie ovuleer nie.

“Ons het dit in God se hande gelaat. Vier maande later het ek uitgevind ek is reeds nege weke swanger – sonder enige medikasie of hulp van dokters,” sê sy.

’n Reeks toetse moet gedoen word om te kyk of Mischa ’n oorkanaal het en of sy kan hoor, maar op die oomblik is geld knap.

“My mediese fonds dek nie mikrosie nie en ons kan nie die toetse bekostig nie. Ons wil so gou moontlik geldinsamelings hou sodat sy ten minste die toetse kan ondergaan.”

Anesha het ’n dokter in Texas opgespoor wat Mischa kan help, maar dié operasie kan eers gedoen word wanneer sy ses jaar oud is. “Jou ore begin eers op daardie ouderdom groei. Hy sal ’n stukkie van haar rib gebruik om ’n oor te bou.

mischaeen

“Ons kyk ook uit vir iemand in Suid-Afrika wat kan help, veral nadat ek uitgevind het die dokter van Texas werk saam met Suid-Afrika se Give an Ear-stigting, wat ’n lang waglys het.”

Ten spyte van die mikrosie het Mischa ’n sterk persoonlikheid; sy laat niks haar onderkry nie, voeg Anesha by.

“God het ’n plan met haar. Daar is ’n rede dat sy met mikrosie gebore is, al verstaan ons dit nie nou nie. Sy sal ’n getuie van Jesus wees.”