’n Katjie, in so ’n sokkie-trui aangetrek, het hierdie week in die sosiale media aandag getrek. Sy is in Raleigh, in die Amerikaanse deelstaat Noord-Carolina, gered waar die orkaan Matthew verwoesting gesaai het, berig CNN. Rodrigo Greco en sy kinders was Sondag in ’n troeteldierwinkel toe ’n werknemer hom vra of hulle dalk ’n katjie wil aanneem. “Nie regtig nie, maar dalk. Waarom?” het Rodrigo die werknemer gevra. Toe Rodrigo se vrou later die katjie sien, was daar geen keer nie en die katjie het dadelik ’n nuwe tuiste gekry. ’n Vrou, wat net as Sarah bekend staan, was ook in die troeteldierwinkel en het ’n foto van die katjie in die sokkie-trui geneem en dit op Twitter gedeel.

Haar twiet het wyd reaksie ontlok en is meer as 74 000 keer op Twitter hertwiet en meer as 130 000 mense het aangedui dat dit een van hul gunstelingtwiets is. Die katjie se nuwe eienaars het ook op mense se reaksie gereageer deur ’n foto te deel van die katjie, wat nou as Pipes bekend staan, saam met hul hond, Amelie.