Alberton - Desjuané (17 maande) is gisteroggend wreed deur 'n bullmastiff aangeval. Tydens die onverwagte gru-voorval is haar gesiggie ook verskeur, berig Netwerk24.

Volgens haar ouma, Mercia Farmer, is Desjuané tans rustig en word sy onder verdowing gehou. Sy noem ook dat die peuter se ouers, Hilda Sage en Rodney, hul bes probeer om sterk te wees.

Hilda was by 'n jaareindfunksie en Desjuané was ook op dieselfde perseel waar sy en die seuntjie van Hilda se werkgewer besig was om te speel.

Die hond was kort voor die voorval in die huis, maar het by die veiligheidshek uitgeglip. "Die hond het toe afgestorm op die kind en haar omgestamp, ons weet geensins hoekom nie," sê Emma Engelbrecht, die hond se eienaar en Hilda se werkgewer.

"Ek het die hond grootgemaak vandat hy vyf weke oud was. Ek weet glad nie wat sy gedrag aangespoor het nie."

Emma vertel verder dat Desjuané gereeld by haar huis wys en dat daar nooit voorheen iets soortgelyks gebeur het nie.

Sy het aan Netwerk24 bevestig dat die hond nog altyd baie lief vir kinders was. Sy het voorts ook genoem dat haar seun (5) en dogter (4 maande) gereeld met die hond gespeel het.

Ná die voorval het die gesin dadelik besluit om die hond van kant te maak. "Desjuané kom beslis eerste," het Emma aan Huisgenoot gesê. "Ons help haar waar ons kan. Ons het reeds begin fondse insamel sodat sy net die beste mediese sorg kan ontvang."

Emma sê Hilda is nie kwaad vir hulle nie, want sy besef die voorval was net 'n ongeluk.

Bron: Netwerk24