Dit kan net die Voorsienigheid wees. Dis hoe brandweerbeamptes in Arkansas onlangs die wonderbaarlike ontkoming probeer verklaar het van ’n baba wat uit ’n motor geslinger is toe ’n swaar vragmotor teen hul voertuig bots.

Jakesia Colson was saam met haar dogtertjie, Bryce (8 maande), en nog ’n insittende in ’n motor toe die agttienwiel-vragmotor hulle aan die linkerkant tref.

Die slag het daardie kant van die motor erg beskadig en Jakesia en haar vriend is lig beseer. Maar nog veel erger was die leë agtersitplek waar haar kind nog sekondes tevore gesit het.

“Ek het langs die hoofweg heen en weer gehardloop op soek na haar terwyl ek heeltyd haar naam uitroep,” het die emosionele ma later vertel. “Maar ek het haar nie hoor huil nie; niks. Ek was angsbevange. Ek het begin dink sy's van my af weggeneem. Dit was die ergste kwartier van my lewe.” Die brandweerspan het vertel hoe ’n paniekerige Jakesia nog met hul aankoms geskree het haar kind is weg. Kaptein Charles Smith en ’n spanlid het dadelik die middelman begin fynkam. Hulle het plek-plek deur hope gras gesif, want die lang gras was pas gesny. En toe hoor hulle ’n baba: nie ’n gehuil nie, “net ’n baba-geluid”.

Hulle kon skaars hul oë glo toe hulle in ’n afvoerpyp afkyk en klein Bryce doodluiters na hulle sit en opkyk, so asof sy bloot wag dat die mense haar kom haal. Buiten ’n skrapie aan haar voorkop was die kleinding ongedeerd.

Nie net het sy mooi tussen die staalpype deur geval wat die afvoersloot bedek nie; die gesnyde gras wat oor die rooster en in die sloot geval het, het blykbaar ook haar landing grootliks versag. Haar stoeltjie is digby die motor gevind.

“Daar moes die een of ander goddelike ingryping gewees het vir haar om so heeltemal oukei aan alles te ontkom,” het Charles dankbaar vertel.

En Bryce se oorstelpte ma het laat hoor: “Ek is geseën. Ek weet dit is ’n wonderwerk. Sy's nog nes altyd my immer vrolike kind.”

Bronne: walb.com, ksla.com, news.sky.com