’n Ma waarsku op Facebook teen die gevare daarvan om ’n vreemdeling jou baba te laat soen. Dit kom nadat haar dogter dae lank in die hospitaal was nadat ernstige sere om haar mond ontwikkel het.

In die Facebook-plasing verduidelik Claire Henderson, van Doncaster in Engeland, iemand sonder sigbare tekens van die siekte het haar baba ’n piksoen gegee.

Sere het toe om die baba se lippe en agter in haar keel ontwikkel.

“Voor drie maande oud kan ’n baba nie die herpesvirus bestry nie,” skryf Claire op Facebook.

“As ’n baba dit opdoen, kan dit lewer- en breinskade veroorsaak en tot die dood lei.”

Die besorgde ma het haar baba na die hospitaal gehaas op grond van ’n vriend se raad.

“Ek weet dit klink of ek paniek saai, maar as my vriend dit nie vir my gesê het nie, kon my dogter baie ernstig siek geword het,” skryf Claire.

“Die les is MOENIE enigiemand jou baba op die mond laat soen nie, al lyk dit nie of hulle ’n koorsblaar het nie; 85 persent van die bevolking dra die virus.”

Die pediater Julie G. Capiola het aan Yahoo! Parenting gesê dit is belangrik dat ouers “die getal mense beperk wat jou baba die eerste paar maande besoek en hanteer en hulle herinner om nie die baba se gesig te soen nie, veral nie op die lippe nie,” om gevalle soos dié van Brooke te voorkom.

Bronne: yahoo.com, metro.co.uk, dailymail.co.uk